
Prof. Frans Swanepoel, ’n bekende veekundige en voormalige professor in veekunde aan die Universiteite van Fort Hare, die Vrystaat en Pretoria, is vanaf Oktober as professor in “Toekoms Afrika” by die Universiteit van Pretoria aangestel.
Hy sal ’n program oor volhoubare landbou-ontwikkeling en landbou-transformasie in Afrika regoor die vasteland lei. Swanepoel het sy PhD aan die Universiteit van die Vrystaat (UV) verwerf. Hy was professor en hoof van die departement van veekunde aan die UV en die Universiteit van Fort Hare, waar hy ook dekaan van landbou was. Hy is in 1990 deur die SA Lanbouskrywersverenining se Oos-Kaapse tak vereer as Landboukundige van die Jaar.
Swanepoel het die afgelope 20 jaar verskeie posisies by ’n aantal universiteite beklee, onder meer as direkteur van die nagraadse skool vir landbou en landelike ontwikkeling aan UP; direkteur vir navorsing aan UV; direkteur van die Afrika doktorale akademie aan die Universiteit van Stellenbosch; en vise-rektor van navorsing en innovasie aan die Universiteit van die Wes-Kaap.
Hy was gedurende 2008 en 2009 ’n besoekende professor aan Cornell Universiteit in Amerika, waar hy steeds as ’n besoekende vennoot by die instituut vir Afrika-ontwikkeling navorsing doen en doseer. Hy het die afgelope 15 jaar bekendhied verwerf as ’n kundige in landbouontwikkeling in Afrika. Hy dien as raadslid van die Landbounavorsingsraad (LNR) asook by verskeie landbouentieite op die vasteland, wat die Kenia-gebaseerde AWARD (African Women in Agricultural Research and Development) insluit.
Hy is onlangs tydens die vyfde Afrika Hoër Onderwysweek vereer vir sy betekenisvolle bydrae tot landbouopleiding en ontwikkeling in Afrika. Swanepoel het wyd gepubliseer en was ’n beoordelaar van verskeie beesrasse.
Hy is uiters opgewonde en beskou dit as ’n voorreg om die UP Afrika-agenda te dryf. Volgens hom is “Afrika die vasteland van die toekoms. Dit is moontlik dat Afrika die wêreld van voedsel kan voorsien”.