
Prof. Nick Vink, landbou-ekonoom verbonde aan die Universiteit van Stellenbosch (US), is deur die Suid-Afrikaanse Reserwebank (SARB) se aandeelhouers as nie-uitvoerende direkteur verkies.
Vink is die voorsitter van die department van landbou-ekonomie in die Fakulteit van AgriWetenskappe en sal vir drie jaar op die SARB se direksie dien. Prof. Ben Smit, voormalige direkteur van die US se Buro vir Ekonomiese Ondersoek, is ook vir ’n tweede termyn verkies.
Hy hoop sy rol bied hom die geleentheid om groter bewustheid te skep oor die Reserwebank se besluite se uitwerking op die landbou en wil die bank ook “attent maak op hoe gebeure in die landbou die breëre ekonomie beïnvloed”, sê hy.
Vink is ook onlangs as die aangewese voorsitter van die Internasionale Vereniging van Landbou-ekonome verkies en is die eerste person uit Afrika wat dié posisie vul. Hy is ook ’n voormalige wenner van die Landbouskrywers SA se nasionale Landboukundige van die Jaar-toekenning.