
Die kunsmismaatskappy Profert, eens die derde grootste in die land, se krediteure het sy sakereddingsplan goedgekeur.
Dit beteken dat dié beleërde maatskappy nou volstoom op pad is om sy oorname deur die Franse bemestingsmaatskappy Roullier af te handel. Die transaksie is egter nog onderhewig aan goedkeuring vanaf die Mededingingskommissie.
Daar word egter nie probleme met dié laaste stap voorsien nie omdat Profert en Roullier se produkte uiteenlopend is. Roullier spesialiseer in vloeibare kunsmis, terwyl Profert konvensionele NPK-produkte verkoop.
Profert se finansiële ondergang is die afgelope twee jaar wyd voorspel. Die Land Bank en Profert se ander aandeelhouer, ’n Chinese maatskappy, moes verlede jaar na bewering noodgedwonge minstens R1,2 miljard aan ’n reddingsboei bestee.
Sedertdien is hard en wyd na ’n koper gesoek om die Profert- boot weer te help vaar. Roullier doen in 50 lande sake.