Prospekteerders van ‘n mynmaatskappy veroorsaak tans erge probleme vir 135 boere naby die Maricorivier, sê die Maricorivier Opvangsgebied Aksiegroep (MOAG).
Mnr. Dawid van Heerden, voorsitter van die groep, sê hulle is in 2008 vir die eerste keer in kennis gestel dat African Nickel op dié grond wil prospekteer.
Van Heerden sê die maatskappy het met hom in verbinding getree, maar hy het hulle aangeraai om eers die nodige konsultasieproses te volg voordat met die proses voortgegaan kan word. Hy het ook vorms van die maatskappy ontvang waarvolgens hy sy besware kon duidelik maak, en die plaaslike landbouvereniging het verskeie kere met die maatskappy probeer kontak maak.
Prospekteerders is egter verlede jaar glo op twee plase aangetref waar hulle gate geboor het. Volgens Van Heerden het hulle intussen besluit om die aksiegroep te stig om die situasie te probeer beredder.
Aanvanklik twee plase
“Wat vir ons misleidend is, is op die aanvanklike dokument is slegs twee plase aangedui wat geraak sou word, en sonder enige kennisgewing het dit nou uitgebrei na meer as honderd,” vertel Van Heerden.
Hy sê hulle is nie seker watter wetlike proses die maatskappy volg nie. “Die brief wat glo aan die begin vir my gestuur is, is volgens hulle lyste na ‘n adres in Springs gestuur. Ek het nog nooit daar gebly nie. Ander boere se briewe is ook na verkeerde adresse gestuur.”
‘n Vergadering
Die twee partye het aan die begin van die maand vergader om die situasie te bespreek. Luidiens ‘n brief van die maatskappy - ná die vergadering – dui hy aan dat hy graag met die prospektering wil voortgaan, en sou hy enige ekonomies vatbare neerslag vind, African Nickel weer met die MOAG sal vergader vir verdere besprekings.
“Soos aan u meegedeel by die vergadering van 6 November, is ons as die MOAG, totaal gekant teen enige verdere prospekteerdery van enige aard op bogenoemde plase, of enige ander in die omgewing, totdat African Nickel aan die nodige vereistes met betrekking tot prospektering voldoen,” was die groep se antwoord in ‘n brief aan die maatskappy.
Van Heerden sê hulle is onder andere bekommerd oor die invloed van moontlike mynaktiwiteite op die rivier, wat nog een van die enigstes in die land is wat nie erg besoedel is nie. Die MAOG wag tans op ‘n antwoord van die maatskappy.
Landbou.com die maatskappy nog nie in die hande kry vir kommentaar nie.
23 November 2010