
Mnr. Mosa Mabuza, die Departement van Minerale Sake se adjunk-direkteur-generaal vir beleid rondom minerale, sê hidrobreking, oftewel "fracking", kan 12 tot 18 maande na die uitreiking van lisensies begin. Hierdie lisensies kan teen Julie of Augustus 2015 al uitgereik word.
Tegniese regulasies sal teen die einde van Januarie 2015 in die Staatskoerant gepubliseer word, na die afhandeling van ’n laaste rondte openbare konsultasie, sê direkteur-generaal mnr. Thibedi Ramontja. Hy sê dit is nou nodig vir die Regering om terug te keer na gemeenskappe wat deur die beplande hidrobreking geraak sal word, om hul bekommernisse aan te spreek.
Tussen Februarie en Junie 2015, na konsultasies met die betrokke gemeenskappe, sal die departement daarop fokus om prospekteerlisensie-aansoeke vir skaliegas te herverwerk. Lisensies sal dan uitgereik word. Die nuwe regulasies behoort ’n raamwerk daar te stel wat veiliger verkenning en latere ontginning van skaliegas sal verseker, sê Ramontja.
Volgens Mabuza sal die prospekteringsfase drie tot sewe jaar neem en tot dusver het tot vyf maatskappye om lisensies ansoek gedoen. Die skatting vir die hoeveelheid skaliegas beskikbaar in die Karoo is ook afwaarts aangepas van 485 triljoen kubieke voet gas tot tussen 18 en 70 triljoen kubieke voet.
Lees die volledige Sapa-berig op News24.