Vyf politieke partye in die Gautengse wetgewer beoog om met die staat swaarde te kruis oor die beoogde toltariewe in die provinsie.
Luidens ’n verklaring is die partye ontevrede oor die eensydige inwerkingstelling van “die uitermate hoë tolhektariewe”.
Die Vryheidsfront Plus, Cope, die African Christian Democratic Party (ACDP), die Demokratiese Alliansie (DA) en die Onafhanklike Demokrate (OD) het Donderdag (22 September 2011) ooreengekom om ’n gesamentlike program van aksie van stapel te stuur. Dit sal massaprotes en optogte insluit.
“Die ANC verstaan slegs een taal baie duidelik en dit is massa-optrede. Die publiek in Gauteng is mislei deur ’n belaglike openbare konsultasieproses waar hul kollektiewe stemme op dowe ore geval het.
"Daarom moet ons kollektief wys dat ons nie sal aanvaar dat hierdie ongeregtigheid deur die Gauteng-tolstelsel op ons afgedwing kan word nie,” aldus adv. Anton Alberts, ’n verteenwoordiger van die VF Plus.
Besware
Van die party se hoofbesware sluit in:
- Die gebrek aan volle openbaarmaking van die tolhekprojek en tariefproses, vooraf kollektering, e-kaarte en buitelandse kontrakte wat die TMT-vervoerbestuurstegnologie insluit; en
- Die oorweging om die brandstofprys, voedselpryse, algemene goedere en dienste in Gauteng te laat styg.
“Ons teenkanting teen die tolstelsel en -tariewe is gegrond op die oortreding van die beginsel van deursigtigheid en demokrasie wat weer die regte van motoriste, die algemene publiek en Gautengse padverbruikers ondermyn,” sê mnr. Ndzipho Kalipa, ’n verteenwoordiger van Cope.
Agri SA het vroeër bekend gemaak dat die aanvanklike toltariefvoorstelle die landboubedryf se vervoerkoste met tussen R6 miljoen en R8 miljoen sou laat styg.
Die optredes sal van volgende week af plaasvind.
23 September 2011