’n Protesdag teen plaasaanvalle, waartydens belangstellendes rooi strikkies sal dra, word deur Solidariteit beoog.
Dié vakbond-groep het ná die bekendstelling van die boek Treurgrond, deur dr. Dirk Hermann en maj. Chris van Zyl, besluit om September te oormerk as sy protesmaand teen plaasaanvalle.
Luidens ’n nuusbrief versoek die groep Suid-Afrikaners om op 30 September 2011 ’n rooi lint op hul skouers of om hul arms te dra, om hul meegevoel te toon aan almal wat reeds deur plaasaanvalle geraak is.
Die boek, wat deur Kraal Uitgewers uitgegee word, is verlede maand in Pretoria bekend gestel. Dit fokus op die voorvalle en moorde wat in die TLU SA se databasis aangeteken is.
TLU SA verheug
Intussen sê die TLU SA hy is verheug oor enige poging om die erns van plaasaanvalle onder die aandag van die publiek te bring. Die organisasie meen dat dié misdaad nie net hul lede raak nie, maar die hele land se kosvoorsiening ook.
“Daarom ondersteun ons hierdie aksie, maar sou terselfdertyd wil sien dat bewusmaking van dié aard op ’n deurlopende basis geskied totdat plaasmoorde nie meer in die land se woordeskat voorkom nie,” aldus die organisasie.
Hy doen ook ’n beroep op die media om die publiek deurlopend op hoogte te hou van voorvalle en die gevolge van plaasmoorde en -aanvalle vir die land.
16 September 2011