
In Amerika het die prys van saaigrond van 2013 tot nou met 10% toegeneem en pryse het in die algemeen sedert 2005 met gemiddeld 11% per jaar gestyg.
Die prys van landbougrond in Amerika word fyn deur federale beleidsmakers, kredietverskaffers, verskaffers van toerusting en saadhandelaars dopgehou, want landbougrond is die basiese sekuriteit vir die meeste plaaslenings. Dis ook 'n aanwyser van hoe gesond die Amerikaanse plaasekonomie is.
Met dié dat rekordgraanpryse voorheen behaal is, het pryse van grond ook die hoogte ingeskiet. Die afgelope jaar het Amerikaanse graanpryse egter met sowat 40% gedaal en dit het reeds druk op die prys van saaigrond begin veroorsaak.
Kenners voorspel saaigrondpryse kan weens lae graanpryse in die laaste kwartaal van vanjaar konstant bly.
Vir die Amerikaanse veeprodusent lyk die prentjie anders. Die prys van weidinggrond het van 2013 tot vanjaar met 11% toegeneem en daar word verwag dat pryse danksy die groot vraag gaan bly styg. Die groter vraag kan hoofsaaklik toegeskryf word aan die goeie beesvleispryse wat in Amerika behaal word.
In Brittanje het die waarde van Britse landbougrond die afgelope dekade beter as die meeste ander bates gevaar en met 270 % gestyg.
Die Suid-Afrikaanse prentjie lyk ook rooskleurig: Bykans geen grondeienaar kan sê dat die waarde van sy plaasgrond gedaal het nie.
Relatief min statistiek is beskikbaar, maar na raming styg die prys van landbougrond in SA met gemiddeld 10% per jaar. Hierdie raming mag dalk konserwatief wees, want in sommige dele van die land het grondpryse die afgelope 10 jaar met tot 400% gestyg.
Hoewel Suid-Afrika 'n stygende rentekoers, relatiewe lae mieliepryse, 'n swak wisselkoers (wat produksiekoste beïnvloed) en politieke onstabiliteit in die gesig staar, wil dit voorkom of grondpryse nie gaan daal nie, in elk geval nie op kort termyn nie.
* Francois Human is verbonde aan die departement landbou-ekonomie, Vrystaatse Universiteit. humanwf@ufs.ac.za.