Die produsenteprys van lamsvleis, wat sedert Julie 2011 met tot 17% gedaal het, gaan na verwagting in die komende maande sywaarts beweeg.
Mnr. Gerhard Schutte, hoof-uitvoerende beampte van die RPO, sê skaapvleispryse het soortgelyke dalings aangeteken.
Lamsvleispryse lê tans op die vlak van R47,50 per kilogram. “Die prysbewegings kan hoofsaaklik aan ‘n groot aanbod vleis in die mark toegeskryf word,” sê Schutte. Hy voorsien nie dat pryse aan produsente binnekort weer sal styg nie, maar dat dit eerder sywaarts sal beweeg.
Slenkdalkoors het mark ontwrig
Schutte sê dié verandering in voorraad kan grootliks toegeskryf word aan die feit dat probleme opgelos is wat die mark weens die uitbreking van Slenkdalkoors geteister het.
Dié siekte het tot gevolg gehad dat duisende skape tydens die vorige seisoen geaborteer het, derhalwe datt voorraad gedaal en pryse gestyg het. “Ons het vroeër vanjaar gesien dat slagtings met tot 17% gedaal het in vergelyking met die vorige jaar,” vertel Schutte.
Verbuikers moet voordeel kry
Volgens Schutte kry die boer sowat 50 sent uit die verbruikersrand per kilogram, en hulle meen dat dié dalings aan verbruikers deurgegee behoort te word.
“Ons wil verbruikers derhalwe inlig en hulle aanmoedig om pryse te vergelyk om te verseker dat hulle die beste prys betaal,” sê Schutte. Verbruikers kan meer inligting oor lam- en skaapvleis op www.healthymeat.co.za kry.
19 Desember 2011