
Die plaashekprys van speenkalwers van 190 kg tot 240 kg was in die week van 5 Mei voorlopig 3,6% hoër as die ooreenstemmende week in April en 53,7% hoër op ’n jaargrondslag.
Die markontledingsmaatskappy AMT voorspel in ’n weeklikse prysverslag daar is ’n 65% kans dat die prys in die res van Mei hoër sal wees as in April, maar ’n 55% kans dat dit in Junie laer sal wees as in Mei. Dié voorspelling is gegrond op historiese syfers.
Die prys van klas A2/A3-beesvleis was op ’n jaargrondslag 22,7% hoër. In dié geval meen AMT daar is ’n 73,7% kans dat die prys vandeesmaand laer sal wees as in April, en 88,9% dat dit in Junie laer sal wees as in Mei.
Beeskuddes uitgedun
“Verlede jaar se droogte het beeskuddes só uitgedun dat die gemiddelde prys in Mei en Junie op ’n hoër vlak kan stabiliseer,” lui die verslag.
Die gemiddelde prys van klas C2/C3-beesvleis was in die laaste week van April R37,67/kg – ’n styging van 1,4% teenoor die vorige week en 31,8% hoër op ’n jaargrondslag.
AMT verwag dat pryse in dié kategorie oor die volgende twee weke sywaarts of opwaarts sal beweeg.