
Só het mnr. Bertus van Heerden, hoofekonoom van die Melkprodusente-organisasie (MPO), op die jaarvergadering van die MPO in KwaZulu-Natal in die distrik Hilton gesê.
Volgens hom gaan internasionale pryse vir waardetoegevoegde suiwelprodukte, soos cheddarkaas, botter, afgeroomde melkpoeier en volroommelkpoeier, uiters hoog bly in Amerikaanse dollar- en Suid-Afrikaanse randwaarde. Dit maak dit vir Suid-Afrika onaantreklik om dié produkte in te voer om in die plaaslike verbruikersvraag te voorsien.
Van Heerden het gesê hoewel daar plek vir Suid-Afrikaanse boere is om die melk te produseer wat nodig is om dieselfde waardetoegevoegde produkte plaaslik te vervaardig, het nasionale produksie van onverwerkte melk sedert 2020 afgeneem. In die eerste vyf maande van 2022 het Suid-Afrika se melkproduksie met 1,36% gedaal vergeleke met die ooreenstemmende tyd verlede jaar.
“In Junie 2022 was die gemiddelde prys wat melkboere in die Europese Unie (EU) vir hul onverwerkte melk se vastestowwe betaal is, 36% hoër as in Junie 2021. Die prys wat in Mei 2022 aan Nieu-Seelandse melkboere betaal is, was 19% hoër vergeleke met die vorige Mei. In Suid-Afrika is die gemiddelde prys vir onverwerkte melk se vastestowwe net 6,1% hoër as ’n jaar gelede. Suid-Afrika se melkboere word tans gemiddeld sowat R1,70 minder betaal as melkboere in die EU, en sowat R0,99 minder as melkboere in Nieu-Seeland per kilogram melk-vastestowwe.”
Hy het verder gesê dat pryse vir Suid-Afrikaanse onverwerkte melk waarskynlik tans die laagste ter wêreld is.
Van Heerden het verduidelik dat hierdie ongunstige en soms onwinsgewende pryse nie help om nasionale melkproduksie aan te moedig nie. Aan die ander kant kan dit melkboere egter dwing om maniere te soek om hul kostedoeltreffendheid te verbeter.
Hy het voorgestel dat Suid-Afrikaanse melkverwerkers hulle met plaaslik vervaardigde hoërwaarde-suiwelprodukte begin toespits op die groeiende aantal hoërinkomsteverbruikers. Daar is ook geleentheid om die onlangse verlangsaming in die uitvoer van Suid-Afrikaanse waardetoegevoegde suiwelprodukte aansienlik om te keer. Hierdie twee aspekte sal nie net tot gevolg hê dat hoër en volhoubaarder pryse aan plaaslike melkboere betaal word nie, maar ook verhoogde nasionale melkproduksie ondersteun.