
Die prys van speenkalwers en dié van slagskape het die afgelope paar weke redelik goed gestyg. Histories bereik die speenkalfprys in Junie sy onderste draaipunt en op 3 Junie was die prys van speenkalwers van tot 250 kg wat op ‘n veiling by Kroonstad verkoop is, R17,21/kg. Vandeesweek (8 Julie) het speenkalwers met dieselfde gewig gemiddeld R18,48/kg behaal – ‘n styging van 7,4%.
Die prys van slaglammers op Frankfort was op 3 Junie R20,71/kg. Op 2 Julie is slaglammers teen R21,38/kg verkoop.
Speenkalfpryse het ‘n paar jaar gelede ‘n hoogtepunt van tot R28/kg (lewend) bereik. Intussen het die rand met sowat 30% verswak. Daar is dus ‘n baie groot potensiaal vir die prys om te styg. Die goeie nuus vir boere is dat die huidige lae mielieprys dit goedkoop maak om diere te voer. As kleinere boere ook begin voer, gaan die prys van speenkalwers nóg duurder raak.
Mnr. Louw van Reenen, voorsitter van die SA Voerkraalvereniging, meen die pryse is nie nou al veel hoër nie. Volgens hom behaal speenkalwers (tot 250 kg) landwyd gemiddeld R17,50/kg.
Hy sê daar is wel ‘n groot vraag vanaf abattoirs na slagvee, maar nie ‘n goeie mark nie, want verbruikers is in ‘n knyptang weens die stram ekonomie. Hoewel mielies goedkoop is, behoort dit eers later – in die tweede helfte van die jaar – ‘n uitwerking op die speenkalwerprys te hê.
Intussen het die markte in Asië, Afrika en die Midde-Ooste weer toeganklik geraak vir Suid-Afrikaanse vleis ná die opheffing van die verbod weens bek-en-klouseer.
Volgens Van Reenen is goeie kanale na dié markte bewerkstellig en is daar ‘n groot vraag na Suid-Afrikaanse vleis.
Die voerkraalbedryf in Suid-Afrika is die voertuig waardeur die meeste boere hul vee bemark.