
Op die jongste veiling verlede week het die gemiddelde prys van graad A2 en A3 lam tot R52,24/kg aan die haak verbeter. Die prys van C-grade het tot R38,80/kg verbeter. Die pryse sluit nie BTW in nie.
Volgens mnr. Gerhard Schutte, hoofbestuurder van die RPO, is die pryse op ’n jaar op jaar grondslag tans 20% hoër.
Hy skryf die verbetering toe aan boere wat na die droogte verlede jaar weer besig is om kuddes op te bou. Wolboere hou hul skape terug om ’n bykomende skeersel te kry voordat hulle die lammers en ou skape bemark.
Volgens ’n verslag van die BFAP (Bureau for Food and Agricultural Policy) wat tydens die jongste RPO-kongres in Bloemfontein voorgelê is, was die gemiddelde verbruik van skaapvleis in 2001 tot 2003 sowat 17% minder as die voorafgaande 10 jaar. Teen 2011 tot 2013 het die vraag marginaal verder gedaal.
Bereken op ’n tonnemaat het die vraag na varkvleis in die 10 jaar tot 2013 die vinnigste gegroei (41%) gevolg deur deur hoendervleis (34%), eiers (27%), beesvleis (20%) en skaap (15%) .
Veediefstal en probleemdiere is van die belangrikste redes waarom skaapproduksie in die land onder druk is. Daar was ook ’n beduidende afname in die invoer van skaapvleis vanaf 2003. Waar die invoer in 2003 nog 35% van plaaslike verbruik verteenwoordig het, beloop dit tans net sowat 14%. Die BFAP voorspel dat die verhouding teen 2019 weer tot 18% kan styg.