
Uit ’n ondersoek wat die Mededingingskommissie in die brandstofbedryf onderneem het, blyk dit of ses maatskappye wat petroleumprodukte vervaardig, asook die SA Petroleum Bedryfsvereniging (SAPIA) hulle na bewering skuldig gemaak het aan prysknoeiery en markverdeling. Dié ondersoek is in 2009 onderneem op grond van inligting wat van verskeie bronne ontvang is.
“Die ondersoek het samespannende gedrag, deur middel van die uitgebreide deel van inligting wat kommersieël sensitief is deur die oliemaatskappye, aan die lig gebring. Volgens die kommissie se ondersoek het dié uitruiling van inligting in die laat 1980’s begin, en het dit sedert 2005 grootliks deur middel van SAPIA plaasgevind,” lui ’n verklaring.
Die ses maatskappye wat ondersoek is, is: Chevron SA (PTY) LTD, Engen Limited, Shell SA (PTY) LTD, Sasol Limited en BP SA Limited.
Inligting onder mekaar gedeel
Volgens die kommissie is die inligting wat gedeel is, maandelikse verkoopsvolumes van olie per maatskappy, per produk, aan gedefinieërde groepe verbruikers in elke landdrosdistrik in. Die kategorieë van produkte sluit onder andere in petrol, diesel, keroseen, vloeibare petroleumgas en smeermiddels.
Die inligting het die maatskappye glo in staat gestel om mekaar se verkope deeglik na te gaan en hulle strategieë in lyn te bring met die mark, en om mededinging tussen hulleself uit te skakel.
Die dieselprys word nie gereguleer nie, maar daar is ’n lys vir maksimum kleinhandelverkooppryse (WLSP) wat deur die Departement van Energie gepubliseer word. “Die oliemaatskappye gebruik die WLSP as hulle lysprys, en hulle gedrag verhoed mededingende verdiskontering volgens hierdie maatstaf,” sê die kommissie. Dié uitruiling van inligting het die maatskappye na bewering in staat gestel om geskiedkundige hoë winsgrense te behou.
Volgens die kommissie het dié optrede verreikende gevolge gehad vir veral kommersiële verbruikers, soos die landbou, die padvervoerbedryf, mynwese en die visbedryf.
Die kommissie beveel aan dat die tribunaal ’n administrastiewe boete wat gelykstaande is aan 10% van elke maatskappy se omset van in- en uitvoere in Suid-Afrika vir die vorige finansiële jaar moet oplê.