Die IDC (voorheen bekend as die Nywerheidsontwikkelingskorporasie) het ‘n R 10 miljard-skema om werkskepping te bevorder Dinsdag (22 Februarie) in Johannesburg bekend gestel.
Mnr. Geoffrey Qhena, hoofbestuurder, sê hulle het dié stap geneem om die Regering se fokus op werkskepping te ondersteun en ekonomiese groei te stimuleer.
Die fondse sal oor ‘n tydperk van vyf jaar, of tot die fondse uitgeput is, beskikbaar wees. Die skema sal van 1 April van krag wees. Die fondse sal teen die prima rentekoers minus 3% geleen word. Na verwagting kan dié fondse help om tussen 40 000 en 50 000 werksgeleenthede in die land te skep.
Fondse vir verwerkingsketting in die landbou
Volgens Qhena gaan hulle, ook met dié fokus in gedagte, oor die volgende vyf jaar R5 miljard aan die landbouverwerkingsketting en R25 miljard aan die groen ekonomiese sektor beskikbaar stel. Dié twee sektore is as van die sleutelsektore vir groei in die ekonomie geïdentifiseer.
Hou Landbouweekblad dop vir reaksie van landbouleiers oor dié fondse asook die skema.
Voorwaardes vir skema
Volgens Qhena kan ondernemings met ‘n omset van R1 miljoen tot R1 miljard aansoek doen vir hulp van die skema. Die spesifieke onderneming moet wel binne die bestek van een jaar nuwe werksgeleenthede skep, en die koste per werksgeleentheid mag nie meer as R500 000 wees nie.
Bewyse van swart ekonomiese bemagtigings moet gelewer word, en “betalingsverlof” sal volgens die behoeftes van elke onderneming bepaal word.
23 Februarie 2011