
Tot hier toe, het die TLU SA se uitvoerende komitee besluit, en 'n allemintige beloning uitgeloof vir eingiemand wat kan bewys dat enige boer sy grond gesteel het!
In 'n nuusverklaring sê mnr. Louis Meintjes, voorsitter van die TLU SA dié organisasie is behoorlik moeg vir beskuldigings dat boere die land se grond gesteel het en dat dit die rede is waarom al meer stemme opgaan vir die onteiening van grond sonder vergoeding.
Meintjes sê dat vir eens en vir altyd duidelikheid oor dié saak gekry moet word. “Daar word alewig allerhande vae beskuldigings gemaak in die verband, maar nog niemand kon met enige konkrete bewyse van gronddiefstal vorendag kom nie.
Beloning van R100 000
“Daarom het die TLU SA besluit om ‘n beloning van R100 000 aan te bied aan enigiemand wat bo redelike twyfel kan bewys dat enige kommersiële boer of lid van die TLU SA sy grond wederregtelik bekom het, wat diefstal sou kon uitmaak,” sê hy.
Meintjes het bygevoeg dat eiendomsreg stabiliteit verskaf en die basis is vir ekonomiese groei. “Sonder gesonde eiendomsreg sal álle ander regte ook bloot verval. Tog word ons eiendomsreg met ’n leuen van ‘diefstal’ ernstig bedreig, terwyl daar geen bewyse bestaan dat enige grond ‘gesteel’ is nie.
"Almal wat glo in ekonomiese groei, werkskepping en armoedeverligting, moet daadwerklik nou saamstaan en die ernstige bedreiging van populêre leuens weerstaan. Moet nie toelaat dat die leuen aanhou om die rigting te bepaal nie.”