
’n Reuse-belegging in ’n akwakultuur-plaas by Coega kan tot 5 000 nuwe werkgeleenthede vir die plaaslike ekonomie skep.
Dié aanleg word beoog op 300 ha in die Coega-nywerheidsontwikkelingsone (CDC) by Port Elizabeth.
Dr. Keith du Plessis, projekbestuurder van die agro-projek van die CDC sê ’n lewensvatbaarheidstudie is pas afgehandel en die fokus van dié projek is op die kommersiële ontginning van marienediere en -plante.
Hy sê die studie dui aan dat die omgewing ideaal geskik is vir die verbouing van perlemoen, en dat die beplanning gedoen word om dit op 80 ha te bedryf. Die perlemoenprojek alleen kan teen 2020 sowat 2080 permanente poste skep.
Bykomend sal ’n visboerdery op 120 ha ’n bykomende 3000 permanente poste skep.
’n Derde oogmerk is om ook met seewier te boer, wat aanvullend tot die perlemoenboerdery sal wees, aangesien dié twee bedrywighede mekaar sal aanvul.