
Danksy Santam, Sanlam en Agri SA is gesamentlik R250 000 vir die bekamping van bruinsprinkaanswerms in die Noord-Kaap geskenk, maar nog geld word benodig. Daar is vroeër vandeesweek aangedui dat R270 000 vir bespuiting nodig is. Dié bedrag het intussen tot R320 000 toegeneem.
Me. Andrea Campher, risiko-en-rampbestuurder by Agri SA, sê dié kosteberaming is slegs vir die Noord-Kaap, wat as die brandpunt beskou word. Dit sluit nie bespuiting in die Wes- en Oos-Kaap in nie. Veral die Wes-Kaap is besig om die stryd teen voetgangers te verloor en moet die sprinkane met ’n vliegtuig bespuit.
Sy sê hulle wag nog vir die helikopter wat hulle gehoop het die departement van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling teen die einde van dié week sou verskaf. Volgens Campher het die tenderproses hiervoor gister gesluit.
Benewens lugsteun is daar ook ’n groot behoefte aan beskermende klere vir die spuitspanne. “Die departement verskaf dit, maar dit gebeur gereeld dat daar te min bestel is, of dat die klere te groot of te klein is.”
Sy sê burokratiese rondslomp binne die departement het tot gevolg dat dit baie lank duur voordat steun uit daardie oord kom. “Deursigtigheid is belangrik. Wat egter ook belangrik is, is om ’n gebeurlikheidsplan gereed te hê. Hulle weet dat sprinkaanuitbrekings kom en dat dit een of ander tyd buite beheer gaan raak. Hoekom moet daar dan eers ’n tenderproses wees? Hoekom is die nodige mense nie reeds aangestel nie?
“Dit voel asof die departement net krisisbestuur toepas, terwyl ’n mens vooruit moet beplan vir hierdie tipe ding. Dit sal die proses vlotter laat verloop. Ons druk tans baie hard vir ’n vergadering met die regering om sy beplanning te bespreek, want ons kan nie elke keer vir die staat in die spervuur intree en vir hom geld bymekaar maak nie.”
Sy sê Agri SA is egter bereid om met die departement saam te werk in en ’n openbare-private-vennootskap.