
Mnr. Anton Bredell, Wes-Kaapse minister van plaaslike regering, omgewingsake en ontwikkelingsbeplanning, het die departement en reservaat in ’n verklaring hiermee gelukgewens. Die finansiering is bekom van ABioSA, wat die afkorting is vir die projek ABS Compliant Biotrade in Southern Africa, gefinansier deur die Switserse sekretariaat vir ekonomiese sake.
Luidens die verklaring bied heuningbos ’n belangrike geleentheid vir ekonomiese ontwikkeling. Die departement stel reeds die provinsie se ekonomiese strategie vir biodiversiteit in werking, wat daarop toegespits is om werkgeleenthede en maniere van lewensbestaan te ontwikkel deur die volhoubare gebruik van inheemse, natuurlike produkte soos heuningbos, aalwyn, rooibos, veldblomme en Sceletium (kougoed).
“Tans word sowat 70-80% van heuningbos in die Wes- en Oos-Kaapse natuur geoes,” sê Bredell. “Ons moet verseker dat daar nie te veel geoes word nie en dat die natuurlike habitatte waarin dit voorkom, nie beskadig word nie, sodat gemeenskappe op ’n volhoubare manier uit die opbrengs voordeel kan trek.”
Mnr. Albert Ackhurst, hoof van bestanddeel-biodiversiteitsbestuur, het in 2016 die heuningbos-gemeenskapspraktyk ontwikkel, waarby die Oos-Kaap ook betrokke is. Só word verseker dat betrokkenes in die bedryf saamwerk met die oog op ’n volhoubare oes, nakoming van die reg, beskerming van die natuurlike habitat en om te verseker dat transformasie plaasvind.
Die HCoP was deel van die nasionale span wat aan die sektorontwikkelingsplan gewerk het, wat ’n inisiatief was van die nasionale departement van bosbou, visserye en omgewingsake, en deur die Deutsche Gesellschaft für Internationale Zusammenarbeit gefinansier is.
Die Wes-Kaapse departement se eenheid vir biodiversiteitsbestuur het saam met die HCoP riglyne vir die volhoubare oes van heuningbos ontwikkel en in werking gestel, en het spesiale oes-veldgidse in Engels en Afrikaans ontwikkel.
Dr. Bianca Currie, uitvoerende hoof van die Tuinroete-biosfeerreservaat, sê die volhoubare benutting van heuningbos het die potensiaal om talle werkgeleenthede in die Wes- en Oos-Kaap te skep en as dit behoorlik bestuur word, kan dit bydra tot die billike en volhoubare ontwikkeling van die streek.
Laai die Landbou.com-app af en lees jou landbounuus direk op die app. Dié app is beskikbaar in die Apple-, Android- en Huawei-winkels.