
As Suid-Afrika se kredietgradering rommelstatus bereik en ’n situasie ontstaan waar net die Internasionale Monetêre Fonds (IMF) geld aan die land leen, kan die rand verswak tot R60 teenoor die Amerikaanse dollar.
Mnr. Chris Hart, ’n ekonomiese markstrateeg, het by AMT se landbou-vooruitskouingskonferensie in Pretoria gesê dit is heeltemal moontlik dat ’n wisselkoers onder sulke omstandighede twee keer kan halveer.
“Baie sê die moontlikheid van rommelstatus is reeds in die ekonomie verreken, maar hulle dink nie verder nie. Soos wat die gradering dieper in rommelstatus inbeweeg, ontstaan die situasie dat net die IMF bereid sal wees om uit te leen teen streng voorwaardes, soos om maatskaplike toelaes af te skaf. Wat gaan dan van die rand word?”
Brexit is goeie nuus
Hart sê Brexit kan een van die mees positiewe verwikkelinge in twee dekades binne die wêreldekonomie wees. “Dit het Brittanje die enorme bedrag van 350 miljoen pond per week gekos om deel van die Europese-Unie (EU) te wees. Die EU se basiese probleem is dat hy vasgevang is in sentrale beplanning en as ’n welsynstaat. Stygende belastings en regulering verwurg die wêreldekonomie.”
Brittanje het nou die geleentheid om ’n gunstige ekonomiese omgewing met regulering en belastings te skep en Brexit kan ’n keerpunt wees. “Daar is nou ’n groot geleentheid om handelsooreenkomste met Brittanje te sluit en landbou moet seker maak hy het ’n stem by die onderhandelingstafel.”
'Koringprys nou reëel laer as 1973'
Mnr. Mike Schüssler, ekonoom en direkteur van Economists.co.za, het ook nie goeie nuus vir die ekonomie gehad nie. “Kommoditeitsindekse is op ’n 42 jaar laagtepunt. Dit beteken in reële terme is die koringprys nou laer as in1973. Dit is tyd om te kyk na waardetoevoeging en weg te beweeg daarvan om net kommoditeite te verkoop. Volgens langtermynindekse lyk dit of daar ’n tydperk van sowat 15 jaar se lae kommoditeitspryse voor ons lê.”
Hy sê die wêreld se graanvoorrade is die hoogste sedert die sestigs (600 miljoen ton) en daar woed ’n perfekte storm op die kommoditeitsmark. Al hoekom dit nie in Suid-Afrika gevoel is nie is weens die droogte en ’n swakker rand.