
Luidens ’n verklaring word die belegging onderskryf deur Transnet se segmentstrategie wat ten doel het om sy besigheid met strategiese sektore in die Suid-Afrikaanse ekonomie te belyn. Die strategie konsentreer op private-openbare vennootskappe as ’n hefboom vir die bevordering van kapasiteit en produktiwiteit.
Die hawens in Oos-Londen, Gqeberha en Ngqura, Transnet se hawens in die sentrale streek, word geposisioneer om belyn te wees met die belangrikste sektore in die Oos-Kaap, wat die motor-, landbou en toerismesektor insluit.
Die Oos-Londense hawe is veral vir die landbousektor van belang aangesien dit ’n graanhyser het. Gevoglik kon sommige vragte vanaf Durban daarheen herlei word.
Vir die projek wat oor sewe jaar uitgevoer sal word, is R4,8 miljard aan die hawens in Gqeberha en Ngqura toegewys en R4,3 miljard aan die Oos-Londense hawe.
In die 2022-’23-boekjaar sal TNPA R570 miljoen aan die ontwikkeling van hawe-infrastruktuur by dié hawens bestee. Strategiese projekte sluit die verskuiwing van die tenkplaas van Gqeberha na Ngqura, die eerste fase van die ontwikkeling van die mangaanuitvoerterminaal in Ngqura, ’n uitvoerbaarheidstudie vir die bou van Oos-Londen se Kaai 3 en die bou van ’n sleephelling by die Gqeberha-hawe in.
TNPA beoog ook spesiale strategiese projekte vir die hele hawestelsel vanaf Julie vanjaar, onder meer die lewering van hernubare krag en ontsoute water aan alle hawens.