
Gesinsboerderye word nie bedreig deur politiek en die Regering se beleid oor grondbesit nie. Die grootste bedreiging is skaalekonomie, het dr. Piet Croucamp, politieke ontleder verbonde aan die Universiteit van Johannesburg, op 'n gronddebat tydens die Agri Megaweek op Bredasdorp gesê.
Die deelnemers aan die debat (dr. John Purchase, uitvoerende hoof van die landbousakekamer Agbiz, mnr. Alan Winde, Wes-Kaapse minister van ekonomiese ontwikkeling, toerisme en landbou, en mnr. Aggrey Mahanjana, sekretaris-generaal van Afasa en Croucamp) was dit eens dat grondhervorming in Suid-Afrika gaan plaasvind en dat veral boere moet saamwerk om dit te laat slaag.
“Nog nooit vantevore het soveel mense saamgestem oor grondhervorming nie. Gebruik daardie konsensus en vertel vir die Regering dat julle (boere) die Nasionale Ontwikkelingsplan steun,” het Croucamp gesê.
Volgens Purchase beloop die totale skuld in die boerderysektor R100 miljard. “Dit maak banke en finansiers se belang in die landbou sowat 60%. Ons het perspektief nodig. Die Regering hunker terug na 'n selfversorgende boerderystelsel. Dit sal nie in Suid-Afrika werk nie. Die grondkwessie is inherent 'n ideologiese probleem. Gelukkig weerspreek die NOP dié regeringsideologie.”
Croucamp sê solank Suid-Afrikaners in bates kan belê, opbrengs daarop kan verkry, goeie opvoeding het en goeie gesondheid kan verseker, sal die land vooruitstrewend wees. “Die Regering is egter nog nie oortuig van die belangrikheid van private grondbesit nie.”
Sy raad aan boere is om sover moontlik te meganiseer. “Raak ontslae van plaaswerkers. Dit is nie 'n menswaardige beroep nie – nie een boer wat ek ken, maak sy kinders groot om plaaswerkers te word nie.”
Mahanjana het uitgevaar oor minister Gugile Nkwinti se bewering dat Afasa die beginsel van grond aan plaaswerkers steun. “Afasa is in 'n lokval gelei en misbruik. Afasa verwerp die voorstel van 50% .”