
Witzenberg, wat Ceres, die Koue Bokkeveld, Wolseley, Tulbagh, Breërivier-Noord en die Ceres Karoo insluit, het reeds ver gevorder met die implementering van 'n radikale grondhervormingsplan
Die Witzenberg Partnership is gevorm ná 'n ooreenkoms tussen landbouprodusente, die Witzenberg Munisipaliteit en die gemeenskap. Die partye het ooreengekom om grondhervorming op 'n unieke wyse te versnel asook om ekonomiese groei, werkskepping en sosiale harmonie te bevorder. Die inligting is in ‘n verklaring saamgevat wat deur die rolspelers onderteken is.
Die ooreenkoms sluit in om suksesvolle swart boere te vestig, die hele gemeenskap in 'n inklusiewe proses te betrek, die inisiatief uit te brei na ander areas en landbouverwante werksaamhede, die Witzenberg-sentrum as 'n eenstop winkel te vestig en te fokus op opleiding en mentorskappe.
Die implementering geskied in lyn met die beginsels van die Nasionale Ontwikkelingsplan en die munisipaliteit se geïntegreerde ontwikkelingsplan.
Die PALS-raamwerk (Partnerships in Agri Land Solutions) word vir projekte gebruik. PALS verskil radikaal van vorige grondhervormingsmodelle in Suid-Afrika:
1. Deelnemende kommersiële boere skenk 30% van die aandele in 'n projek aan die begunstigde boer(e) wat verseker dat laasgenoemde 'n veto oor alle belangrike besluite het.
2. Die verhouding tussen die begunstigde en die kommersiële vennoot gee die swart begunstigde beter toegang tot finansiering en waarborg toegang tot markte.
3. Die begunstigde boer word gevrywaar van skuld vir solank as wat hy 'n minderheidsaandeelhouer in die nuwe maatskappy is.
4. 'n Unieke werkerstrust ontvang 'n gedeelte van die wins vir gemeenskapsprojekte van hul keuse.
5. Die swart aandeelhouer verkry dadelik 'n opsie om die meerderheid aandele te koop.
6. Die Witzenberg-sentrum ("one stop shop") verskaf 'n fisiese adres vanwaar beplanning, finansiering, koördinering, fasilitering asook monitering en mentorskapfunksies geïmplementeer word.
Twee PALS-projekte was reeds in 2012 suksesvol geïmplementeer op plase in die Ceres distrik. Die Witzenberg Partnership gaan nou ongeveer 50 nuwe boerderyprojekte loods met individue wat die potensiaal het om suksesvolle swart boere te word.
Die plase is in alle areas van Witzenberg en beslaan meer as 12 000 hektaar. Die produktiewe besproeiingsgrond op die plase is ongeveer 4 200 hektaar se vrugte- en groentegrond. As wêreldbekende vrugte-area is die fokus op hoë waarde besproeiingsgrond en word gemik om die teiken van 20% van die Nasionale Ontwikkelingsplan te oorskry. Dit word beraam dat 4 000 hektaar besproeiingsgrond 12 000 nuwe werksgeleenthede in die Witzenberg-area kan skep.
Die PALS-projekte word geïmplementeer op bestaande plase asook nuwe plase waar oortollige of surplus winterwater gebruik kan word om besproeiingskemas uit te brei.
Ander projekte wat ekonomiese groei sal stimuleer, soos pakhuise, koelkamers, spoorvervoerdienste, toerisme, 'n strategie om reeds bestaande swart boere meer suksesvol te maak en die verbetering van aandeelhouerskemas wat destyds in terme van vorige regeringsbeleid geïmplementeer was, vorm ook deel van die strategie.
Die klem is op skep van geleenthede deur ekonomiese groei, maar veral ook deur opleiding, mentorskapprogramme en vaardigheidsontwikkeling.
Die Witzenberg-inisiatief is 'n geïntegreerde ontwikkelingsplan wat benewens grondhervormingsprojekte, opleidingsfasiliteite, behuisingsprojekte, gemeenskapsprojekte en opvoedkundige projekte insluit. Daar word ook gestreef na beste praktyke ten opsigte van behuising, fasiliteite vir werkers, arbeidsverhoudinge en 'n volhoubare gesonde omgewing.
Anders as met ander grondhervormingsplanne in ander areas, is die Witzenberg-produsente bereid om aanvanklik sonder regeringsubsidies projekte aan te pak en suksesvol te maak. Die Regering kan as strategiese vennoot hulp verleen met nuwe besproeiingskemas, deur opgaringspermitte vir surplus water toe te staan en die proses ook verder te versnel deur goedkoper lenings te fasiliteer.
Die Witzenberg Partnership is ‘n streeksinisiatief wat die unieke kenmerke van die betrokke area en besproeiingsbedryf in ag neem. Dat die inisiatief voldoen aan die beginsels van die Nasionale Ontwikkelingsplan word bevestig in ‘n dokument soos saamgestel deur prof. Nick Vink van die Universiteit van Stellenbosch se department landbou-ekonomie. 'n DVD van ongeveer 10 minute is ook oor ter inligting van die inisiatief saamgestel.
Die omvang van die Witzenberg inisiatief het reeds alle verwagtinge oorskry en word gesteun deur swart en wit boere, bedryfsorganisasies, vakbonde en die provinsiale en nasionale Regering.
Sukses begin by ons manier van dink. As lojale en positiewe Suid-Afrikaners sien ons met opgewondenheid uit na die verdere implementering van die Witzenberg-inisiatief.
Die verklaring is deur die volende mense onderteken:
* Gerrit van Vuuren, Besturende Direkteur van Joubert van Vuuren Ing. Projekleier 023 312 3152
* David Nasson, Munisipale Bestuurder, Namens Witzenberg Munisipaliteit
* Pieter du Toit, Besturende Direkteur Bemarking Dutoit Groep, Wes-Kaapse Besigheidsleier 2011
* Bernhardt du Toit, Besturende Direkteur Langrivier Boerdery, SA Boer van die Jaar 2009
* Rossouw Cillié, Besturende Direkteur Laastedrif Boerdery, SA Boer van die Jaar 2013
* Nicholas Dicey, Voorsitter van Hortgro en SAAPA (Suid-Afrikaanse Appel en Peer Produsente)
* Ismael Motala, Voorsitter AFASA, Wes-Kaap
* Heinie du Toit, Voorsitter Agri Witzenberg
* Robert Graaff, Besturende Direkteur Graaff Fruit, SA Jong Boer van die Jaar 2007
* Peter Wolfaardt, Direkteur, Verdun Estates