
Tydens sy besoek saam met mnr. Marius Fransman aan die Paarl in die Boland die naweek, het adjunk-pres. Cyril Ramaphosa onder meer verwys na die verwagte rol wat produsente moet speel om plaaswerkers se lewensomstandighede te verbeter.
In ’n nuusverklaring sê mnr. Carl Opperman, hoof uitvoerende beampte van Agri Wes-Kaap, die georganiseerde landbou in die provinsie wil dié twee daaraan herinner dat die Regering ook ’n rol het om die landbousektor, wat ’n nasionale bate is, te ondersteun en te beskerm.
Opperman sê dat die Regering in 20 jaar van demokrasie nog nie daarin kon slaag om sy eie grondhervormingsbeleid doeltreffend en volhoubaar te implementeer nie.
“Sekere van die nuwe beleidsvoorstelle wat uit die Groenskrif op Grondbeleid voortspruit, is ook nie implementeerbaar nie. Die georganiseerde landbou het veral die afgelope drie jaar aan hoeveel gesprekke deelgeneem om werkbare modelle vir grondhervorming voor te stel. Dit is keer op keer deur die Regering van die tafel gevee en met nuwe planne vervang wat onrealistiese verwagtinge skep en emosies aanblaas.
“Waar is die Regering se plan om nuwe en bestaande markte vir beide bestaande en opkomende produsente oop te maak om die winsgewendheid van veral nuwe toetreders tot die landbousektor te waarborg? Vrar Opperman.
“Landelike infrastruktuur gaan so vinnig agteruit dat dit winsgewendheid in gedrang bring. Waar is die Regering se plan om landbou te ondersteun deur hierdie verval aan te spreek?
Die skep van landbou-onrus met ’n politieke agenda dwing sekere industrieë tot ’n halt. Is dit hoe die Regering ’n nasionale bate vir al sy inwoners beskerm?
Wat plaasuitsettings betref, is Agri Wes-Kaap nie bewus van enige onwettige uitsettings nie. Wettige uitsettings wat ná hofuitsprake deur die Grondeisehof onder hersiening geneem en toegestaan is, vind wel plaas.
Opperman sê Agri Wes-Kaap sou dit verwelkom indien Ramaphosa en Fransman tydens hulle besoek tyd kon inruim om ook met die georganiseerde landbou en produsente om ’n tafel te kon sit om te gesels oor hoe Wes-Kaapse boere daagliks talle uitdagings moet trotseer om een van die belangrikste sektore in die ekonomie aan die gang te hou.
"Soos in die verlede is die georganiseerde landbou in die Wes-Kaap altyd bereid om met die Regering hande te vat en tot die gesprek toe te tree om ‘n beter Suid-Afrika vir almal daar te stel, sê Opperman.
* Intussen het mnr. Tony Ehrenreich van Cosatu óók sy stuiwer in die armbeurs gegooi deur te sê plase in die Wes-Kaap gaan “op groot skaal beset word” indien boere nie ophou om werkers van plase uit te sit nie. Lees die berig op Netwerk24.
Die LUR vir landbou in die Wes-Kaap, mnr. Alan Winde, het gewaarsku dat Cosatu versigtig moet wees. “Hy (Cosatu) moet oppas dat hy nie ook die oorsaak van verdere afleggings is deur afbrekende gedrag in die arbeidsmark aan te moedig nie.”