
Dis tyd om te erken dat hoewel sedert 1994 vooruitgang gemaak is met die grondhervormings- en verdelingsproses, het dit nie aan die verwagtinge voldoen van Suid-Afrikaners wat voorheen onderdruk is nie.
Veral swart grondbesit en werkskepping het nie vinnig genoeg plaasgevind nie, het adj.pres. Cyril Ramaphosa gisteraand (21 Junie) gesê tydens Witzenberg PALS (Partners in Agri Land Solutions) se ledevergadering in die Koue-Bokkeveld.
“Ek voel tuis hier; ek is ook ’n boer,” het Ramaphosa, wat met beeste en graan boer, aan die gehoor gesê. Die sowat 200 aanwesiges was meesal vrugteboere.
Uitdagings wat wag
“Soos ons die landbou probeer transformeer, is ons pynlik bewys van die skaal van die uitdagings wat ons moet oorkom,” het Ramaphosa gesê.
Hy meen gevestigde boere, opkomende swart boere, plaaswerkers en die Regering moet saamwerk om betekenisvolle verandering te bewerkstellig. “Doelbewuste stappe moet geneem word om landelike hervorming te versnel en om die gemarginaliseerde armes deel te maak van die ekonomiese hoofstroom.”
Hy het voorgestel dat landbouverwerking uitgebou en marktoegang vir opkomende boere gefasiliteer word.
Onvoldoende toegang
“Dit beteken ons moet ’n manier vind om om te gaan met ongelyke toegang tot produktiewe hulpbronne en onvoldoende toegang tot finansiële ondersteuning.”
Ramaphosa het boere ook aangemoedig om werkloosheid onder die jeug te help aanroer deur jong mense onder hul vlerk te neem vir mentor- en internskappe om vaardighede oor te dra.
Ramaphosa het gesê die PALS-lede omhels radikale ekonomiese transformasie. “Dit maak julle nie bang soos dit ander mense in die land bang maak nie.”
In die gemeenskap se belang
Volgens hom behoort inisiatiewe soos PALS die belange van die breë gemeenskap op die hart te dra.
“Dit moet inklusief, deursigtig en verantwoordbaar wees. Ons het immers te doen met ’n nasionale bate waarby alle Suid-Afrikaners ’n belang het.”
Aanbiedinge oor PALS-projekte het ’n prentjie geskilder van ’n streek wat saamwerk om vennootskappe te sluit en ’n inklusiewe ekonomie te bou.
Sewe nuwe grondprojekte
Mnr. Lennox Plaatjies, PALS se hoof uitvoerende bestuurder, het gesê sedert die inisiatief twee jaar gelede tot stand gekom het, is meer as 100 projekte by die PALS-sentrum geregistreer. Dit sluit in grondtransaksies, projekte in die waardeketting, opleiding en die verbetering van behuising vir plaaswerkers. Die sewe nuwe grondprojekte en voormalige LRAD-projekte wat geherstruktureer is, beslaan sowat 30 000 ha in die Witzenbergvallei. Bykans 5000 ha hiervan is besproeiingsgrond, wat meer as 20% van die area se besproeiingsgrond beslaan.
Volgens mnr. Raymond Koopstadt, nuutverkose voorsitter van PALS, bied die inisiatief ’n ondersteuningsraamwerk vir swart én kommersiële boere om die uitdagings wat Ramaphosa genoem het, te oorkom. Dit sal inklusiwiteit in die landbou moontlik maak en bevorder.
Sluit vennootskappe
“Mense se drome om hul eie plase en ondernemings te besit, is ’n werkikheid. Dit kan ’n werklikheid word as hulle vennootskappe sluit. Ons kan saam groei in vennootskappe en ’n inklusiewe ekonomie bou waarby almal kan baat vind.”
Mnr. Gerrit van Vuuren, wat destyds die PALS-raamwerk opgestel het, het gesê die grootste uitdagings is kapasiteitsprobleme veral wat Eskom-krag betref, toegang tot water, belastingwetgewing wat projekte te veel geld uit die sak jaag, probleme met onderverdeling en erkenning aan kommersiële boere wat reeds deelgeneem het aan die transformasieproses.