
Ten spyte van ’n duidelik afwaartse neiging in die getal plaasafsettings oor die langtermyn, het adj.-pres. Cyril Ramaphosa ’n beroep op Wes-Kaapse boere gedoen om onmiddellik alle plaasuitsettings te staak, sodat basiese vertroue kan ontstaan tussen al die rolspelers wat moet onderhandel oor die toekoms van die landbou.
’n Voorlopige verslag wat die Departement van Landelike Ontwikkeling en Grondsake gedurende die week vrygestel het, toon benewens die afname ook dat slegs drie onwettige uitsettings in die afgelope paar maande in die Wes-Kaap gedoen is, waarvan slegs een in die Boland.
Ramaphosa het in Paarl ’n hoëvlakvaardiging van ministers gelei in ’n vergadering met rolspelers in die Wes-Kaapse landbou. Teenwoordig was onder andere die Minister van Landbou, mnr. Senzeni Zokwana, die Minister van Korporatiewe Regering, mnr. Pravin Gordhan, die Minister van Justisie, mnr. Mike Masutha, die Minister van Arbeid, me. Mildred Oliphant, die Wes-Kaapse LUR vir ekonomiese sake en landbou, mnr. Alan Winde, die voorsitter van Asuf (die sambreelliggaam van die georganiseerde landbou in SA), mnr. Japie Grobler, die hoof uitvoerende beampte van Agri Wes-Kaap, mnr. Carl Opperman, die voorsitter van die plaaswerkersvakbond, Bawusa, eerw. Nosey Pieterse, mnr. Tony Ehrenreich van Cosatu, en verskeie verteenwoordigers van landboubesigheid, plaaswerkersorganisasies en nie-regeringsorganisasies.
Ramaphosa sê die doel van die vergadering is om die proses om volhoubare oplossings en metodes van transformasie te vind, wat deur die voormalige adj.pres. Kgalema Motlanthe begin is kort ná die De Doorns-onluste in 2012, weer momentum te gee. Hy sê so ’n moratorim sal die toestand help skep vir daadwerklike onderhandeling, want die tyd vir gesels is verby. Hy’t gesê soos na die voorbeeld van die Solms-Delta landgoed by Simondium, moet boere “die verskriklike dinge wat in die verlede gebeur het, die hoof bied”.
Hy sê die doel van die onderhandelinge moet ’n maatskaplike verdrag wees, waarin oreengekom word hoe die Wes-Kaapse landbou met geregtigheid vir almal gaan groei. Hy sê só ’n verdrag moet uiteensit hoe werk geskep gaan word, hoe werkers aandeelhouers in plase gaan word, hoe die behuising, opleiding, onderwys en gesondheidsorg van werkers verbeter gaan word en hoe die Nasionale Ontwikkelingsplan geïmplementeer gaan word.
Ramaphosa sê ook baie goeie werk is reeds gedoen sedert die De Doorns-voorvalle, soos die verslag saamgestel deur die Future of Agriculture and the Rural Economy (FARE)-proses in 2013. Hy’t gesê hy sal alle bydrae bymekaarmaak en opsom, voor die gesprek volgende jaar hervat.
Me. Annalize Crosby, beleidsadviseur van Agri SA, het gesê sy is verbaas dat Ramaphosa vir ’n moratorium op uitsettings vra, omdat dit waarskynlik ongrondwetlik is en nie deur ’n wet afgedwing kan word nie, maar sy reken dit is eerder ’n beroep op boere om deur ’n gebaar vanuit eie geledere hulle goeie trou te wys en hulle te verbind tot onderhandeling.