
“Dit is inderdaad goeie nuus dat Ramaphosa herkies is, gegewe al die drama tydens die afgelope kongres,” sê mnr. Christo van Rheede, uitvoerende direkteur van Agri SA.
“Die meeste in die topsewe is Ramaphosa-ondersteuners. Hy het hul ondersteuning nou meer as ooit nodig. Die RET/Zuma-faksie is gewond en is nou op hul gevaarlikste. Ramaphosa sal sy agenda om korrupsie vas te vat nog verder moet verskerp en al die skuldiges agter tralies moet kry,” volgens Van der Rheede.
Die uitslae in die ANC se topsewe-leiersverkiesing is Maandag amptelik bekend gemaak. Pres. Cyril Ramaphosa is tot ’n tweede termyn as ANC-president verkies met 2 476 stemme teenoor sy teenstander, dr. Zweli Mkhize, wat 1 897 stemme ontvang het.
Die ANC se nuwe adjunkpresident is mnr. Paul Mashatile, ’n groot figuur in Gauteng, die party se voorsitter is weer mnr. Gwede Mantashe en mnr. Fikile Mbalula is as die sekretaris-generaal gekies.
Dit is die eerste keer dat drie vroue deel is van die top-ANC-lede. Die eerste adjunk-sekretaris-generaal is me. Nomvula Mokonyane, die tweede adjunk-sekretaris-generaal is me. Maropene Ramokgopa en dr. Gwen Ramakgopa is as tesourie-generaal gekies.
Mantashe, Mbalula en Ramakgopa word allerweë beskou as bondgenote van Ramaphosa.
Kommentators het kort ná die bekendmaking onder meer gesê dit is verrassend dat KwaZulu-Natal wat vir die grootste groep ANC-stemblok sorg, nie ’n leier in die top-7 het nie.
Ramaphosa goed vir landbou
Agri SA glo Ramaphosa se verkiesing tot ANC president is ook goed vir die landbousektor. Ramaphosa kon nie tydens Agri SA se konferensie vroeër vanjaar self sy toespraak aan die georganiseerde landbou lewer nie. Hy het sy toespraak aan me. Thoko Didiza, minister van landbou, grondsake en landelike ontwikkeling, oorgelaat om te lewer.
“In die toespraak het hy (Ramaphosa) groot gewag gemaak van die landbou. Onder meer het hy die gesê: ‘Ons ervaring tydens die pandemie het gelei tot ’n groter openbare waardering vir die rol van landbou. Boere is die lewensaar van ons land en as regering bevestig ons ons onwrikbare steun aan die sektor en belowe om alles binne ons vermoë te doen om die volhoubaarheid en groei daarvan te verseker.’
Mbalula skuif
Die nuwe topsewe is in ’n paar opsigte interessant ná twee weke van ongekende onsekerheid en twyfel voor die nasionale konferensie, meen mnr. Theo Venter, politieke ontleder aan die Noordwes-Universiteit se sakeskool.
“Ramaphosa het sy oorwinning van Nasrec I in 2017 vergroot en in die proses het KZN weereens nie ’n enkele verteenwoordiger in die topsewe nie. Die argitek van die oorwinning was beslis Gwede Mantashe wat ook herkies is as nasionale voorsitter. Paul Mashatile het die adjunkpresidentskap gewen omdat daar drie kandidate was en mnr. Ronald Lamola was die duidelike verloorder hier.
“Die nuwe sekretaris general is Fikile Mabalule en op ’n manier is dit ’n bedekte seën vir die land, want dit beteken hy sal nie meer in die kabinet kan dien nie; sy werk is nou om die ANC voltyds te fix.”
Die aanwysing van drie vroue in die topsewe is grensverskuiwend vir die ANC. Die span rondom Ramaphosa is beslis meer lojaal aan hom as die topses van Nasrec 2017 wat in totaal verdeeld was.
Mnr. Bennie van Zyl, hoofbestuurder van TLU SA, sê mense moet probeer optimisties bly ongeag wat binne die ANC gebeur, maar hy gee toe dit is nie elke dag maklik nie.
“Die ANC stel die party eerste, nie Suid-Afrika of sy mense nie. Ons is nie seker waar lê die lojaliteite van die top-ANC-lede wat verkies is nie. En ongelukkig het ons al gesien dat die party besluite neem wat die markte ’n vuishou gee, ondanks sy voorneme van ekonomiese groei,” sê hy. “Ons wag nou om te sien watter beleid hy gaan volg in die landbou – as daar ’n paar vlammetjies van hoop opgaan, sal ons dankbaar wees. Maar net die tyd sal leer.”