
Pres. Cyril Ramaphosa het eerstehandse kennis van die probleme wat boere met die staatsdiens ervaar – hy het self drie jaar vir ’n waterlisensie gewag, het hy aan boere op Bonsmara SA se Rooi Dag-byeenkoms by Stonehenge Lodge by Parys gesê.
Toe hy navraag doen, het hy agtergekom dit is omdat amptenare “papiere van een lessenaar na die volgende een rondskuif”. Daarom wil hy van rompslomp ontslae raak.
Die regering is vasbeslote om die ekonomie te laat groei en hy weet van instellings wat weer “miljarde rand” in Suid-Afrika wil belê. Die regering wil meesterplanne vir verskillende sektore opstel, soos die suiker- en tekstielbedrywe, om hulle reg te ruk.
Ramaphosa het te kenne gegee die landbou sukkel weens swak paaie en probleme met padvervoer en hawens om hul produkte by bestemmings te kry, en gesê die regering probeer om hierdie probleme op te los. Van die probleme is ook weens staatsdepartemente se gesloer.
Hy is ook bewus van die ernstige gebreke in die SA Polisiediens, wat deur die onluste in Julie 2021 uitgewys is. “Ons wil vorentoe beweeg en van misdadige aktiwiteite in ontslae raak. Ons kan dit nie bekostig om ’n misdadige land te hê nie.” Hy wil na elke staatsdepartement en munisipaliteit kyk.
MENTORSKAP
Ramaphosa het erken Suid-Afrika het ’n baie moeilike tien jaar agter die rug wat deur staatskaping, onluste, swak dienslewering, misdaad, werkloosheid en armoede gekenmerk is.
“Dit kan mense mismoedig maak, maar ek glo baie Suid-Afrikaners is bereid om saam te werk om die probleme op te los.”
In dié verband het hy ’n beroep gedoen op die landbousektor om opkomende boere te help om kundiger te word. Kommersiële boere kan byvoorbeeld swart boere na hul plase nooi sodat daardie boere kan sien hoe hulle boer. Daardeur sal die landbousektor groei “en die koek sal groter word”.
Ramaphosa het gesê hy het self baie by ander boere geleer, onder meer by mnr. Nick Serfontein, voorsitter van die Bonsmara-genootskap, wat baie swart boere oplei en mentor.
BUITELAND
Ramaphosa was optimisties oor die res van Afrika, ondanks konflik en bewindsoornames in sommige lande. Hy meen die vasteland toon baie belofte en gaan vorentoe die hoogste ekonomiese groei van alle vastelande toon. “Tariewe gaan afgebreek word.” Talle lande het reeds daartoe ingestem. Suid-Afrika se produkte sal dan op winkelrakke in alle lande kan pryk.
Oor die Russiese inval in Oekraïne het Ramaphosa gesê Suid-Afrika gaan regstreeks deur dié konflik geraak word, met brandstof- en kospryse wat gaan styg en almal nadelig beïnvloed.
Al het talle lande, ook van Suid-Afrika se belangrike Westerse handelsvennote, dié stap ten sterkste veroordeel, neem Suid-Afrika neem egter ’n neutrale posisie in.
Daaroor het Ramaphosa gesê hy het tydens ’n onlangse gesprek met die Russiese president, Wladimir Poetin, beklemtoon dat hy (Ramaphosa) glo dis die beste om so ’n situasie deur dialoog op te los. Dis is dieselfde standpunt wat oudpresident Nelson Mandela gehandhaaf het toe hy en die destydse Suid-Afrikaanse regering voor 1994 in gesprek getree het. Onstuimige toestande het toe geheers wat deur samesprekings ontlont is.
“Ons benadering is dat al die partye met mekaar moet praat om die konflik op te los. Dit sal ons ook ’n geleentheid gee om ’n rol te speel. Ons gaan ook met ander wêreldleiers gesels en ons standpunt stel.”
Poetin het vir Ramaphosa gesê nog onderhandelings is onderweg “en ek hoop dit sal suksesvol wees”, het Ramaphosa bygevoeg.