
Met die WhatsApp-boodskap wat ek die ander dag van ’n boerepêl gekry het, weet ek presies wat Will Rogers bedoel het: ’n Foto van ’n rol toiletpapier, met die prys van R4,20 per 110 g, en langsaan ’n mieliekop wat R0,16 vir 110 g kos.
Terwyl dit natuurlik nie heeltemal akkuraat is nie, som dit die huidige situasie op die mieliemark taamlik goed op. Dit is wel miskien ’n bietjie meer kleurvol as wat die Oesskattingskomitee dit sou uitbeeld. Net ’n eenvoudige, rowwe boeresom wys watter waarheid in hierdie ietwat verdagte humor steek.
Verlede jaar, teen ’n gemiddelde mielieprys van ongeveer R4 500 per ton, was die nasionale mielieoes van ongeveer 7,5 miljoen ton R33,7 miljard werd. Vanjaar, met ’n historiese groot oes van 16,5 miljoen ton en ongekende opbrengste, is die mielieprys gemiddeld sowat R1 800 per ton.
Dit is ’n totale waarde in die omgewing van R29 miljard. Verlede jaar is dus R4,7 miljard meer waarde geskep in wat in die meeste opsigte ’n katastrofiese jaar was, teenoor die mildelike oes van vanjaar. In ’n jaar waarin Suid-Afrika se boere se ongelooflike kundigheid om mielies te verbou en ’n stapelvoedsel vir Suid-Afrika en die streek te voorsien, behoort hulle verheerlik te word as die strategiese nasionale bate wat hulle is.
Vrye mark
Is dit nie maar net die vrye mark aan die werk nie? Miskien, maar is dit die geval wanneer produksiemiddele se pryse aan ’n wisselvallige geldeenheid gekoppel is wat deur elke onsinnige politieke uitspraak vir ’n ses geslaan word?
Daar is ook die regulatoriese omgewing, soos daardie wit mielies wat in Desember blitsig deur die staat goedgekeur is vir invoer. (Hoekom sukkel ons dan so met die registrasie van byna alle ander middele?) Die witmielieprys het getuimel, en pleks daarvan dat boere geskep het, was dit die graanhandelaars wat bewus was van wat aangaan, wat die bokke getel het.
En wat van die breër landbou-omgewing, wat alles behalwe ’n ondersteunende omgewing vir landbouproduksie skep? Van onsinnige, onwerkbare en agterlike politieke uitsprake tot plattelandse paaie wat nie reggemaak word nie, entstowwe wat nie gemaak word nie en natuurlik plaasmoorde, wat soos ’n donkerwolk oor ons landbou hang.
Oplossings
Tog produseer ons boere steeds. Dit is wat hulle doen. Voeg daarby ook moeilike klimaatstoestande en grondpryse wat plek-plek daal, en boere se vermoë om geld teen die kwynende waarde van hul plaas te leen, verminder toenemend.
Met dít alles in ag genome, is dit verbasend om te dink die belangrikste besluit wat ’n mielieboer vanjaar kon neem, het niks te doen gehad met watter lugdrukplanter hy gebruik het, die opbrengs waarvoor hy bemes het en of hy windskade moes trotseer of nie.
Dit is eerder die prys wat hy kon kry, of, om meer spesifiek te wees, die prysvlak waarteen hy verskans het. Dit is ’n besluit wat nie op die lande geneem is nie, maar eerder in die kantoor. ’n Paar honderd rand per ton in die regte rigting sou in hierdie stadium van die geveg ’n helse verskil gemaak het.
Dit het weliswaar ongelukkig nie met iemand anders gebeur nie, maar met ons eie boere. En dit is glad nie snaaks nie.
* Chris Burgess is redakteur van Landbouweekblad. Hierdie is sy redakteursbrief in LBW van 4 Augustus.