
Mnr. Ren Stubbs, suiwelboer van Howick in KwaZulu-Natal, het kort voor Kersfees 70 melkbeeste verloor wat deur weerlig doodgeslaan is. Die weerlig het die beeste op een van Stubbs se plase by Notingham Road, ook in KwaZulu-Natal, getref. Hy sê daar was geen groot storm nie en dit was net die een weerligstraal wat die groep beeste getref het terwyl hulle besig was om te wei.
“Ek wil eintlik nie eers daaroor praat nie. Dit was ‘’n negatiewe voorval en daar is niks wat mens kon doen om dit te voorkom nie.”
In dieselfde tydperk by Wakkerstroom is agt dragtige koeie (twee met kalwers) en vier dragtige ooie doodgeskok deur kragdrade wat op die grond gelê het nadat kragpale omgeval het. Die boer, wat annoniem wil bly, sê die voorval is nie Eskom se skuld nie maar eerder kontrakteurs wat swak werk gedoen het met die oprigting van die pale.
Ook in ander dele van die land skep Eskom se kraginfrastruktuur probleme, deels deur baie reën wat pale laat omval, geroeste kragpale en houtpale wat in brande beskadig is en nie vervang word nie en ook diefstal van infrastruktuur.
Mnr. Willie Jones, sakeman van Koster wat bekend is vir sy stryd teen die Bojanala Platinum-distriksmunisipaliteit om dienste herstel te kry, sê die skade wat deur vandalisme en diefstal by Eskom se substasies aangerig word, is verstommend. Hulle hele gebied is gereeld sonder krag vanweë skade wat aangerig word en diefstal van pale se ankerkabels.
Mnr. Wilhelm Roché, boer en onafhanklike raadslid in dieselfde distriksmunisipaliteit, sê boere sal moet begin om eienaarskap te vat van die kraglyne op hul plase. “Hierdie lyne behoort eintlik aan ons as boere. Ons het dit volgens kontrak oor 20 jaar betaal en eintlik behoort Eskom ons nou te betaal vir die pale wat op ons grond staan.”
Hy sê hulle het op 5 November ’n vergadering met die bestuur van Eskom in Noordwes en die Noord-Kaap gehad oor die instandhouding van die kraglyne.
“Daar is beloftes gemaak oor herstelwerk maar binne twee weke val daar toe kraglyne wat Swartruggens vir byna ’n week lank sonder krag gelaat het. Boere kon nie vir hulle diere water pomp of besproei nie.”
Hy sê op 8 Desember het hulle weer met Eskom vergader weens inbrake by substasies in die omgewing en Eskom se onvermoë om die stasies te beveilig. Daar is toe besluit om kameras te installeer en daar is nou ook ’n ooreenkoms tussen plaaswagorganisasies en Eskom om die plaaswagte betrokke te kry as die alarmstelsels geaktiveer word.