Die boer, as ‘n werkgewer, moet ook voordeel trek uit rampfondse vir werksekerheid op plase, sê die TLU SA.
Luidens ‘n verklaring het die organisasie dié versoek aan me. Tina Joemat-Pettersson, Minister van Landbou, Bosbou en Visserye gestuur. Joemat-Petersson het via die media die boodskap uitgestuur dat plaaswerkers as ‘n saak van prioriteit /voorkeur ondersteuning van die owerhede moet kry.
Boere moet werkers dra
Mnr. Ben Marais, voorsitter van die TLU SA, sê hulle weet nie of die Minister se boodskap verkeerd uitgestuur is nie, maar boere het ook hulp nodig.
“Indien dit die geval is, laat my toe om daarop te wys dat as die situasie van boere nie aangespreek word nie, sal die lot van die plaaswerkers en hulle families vererger. Met die baie skade wat gely is, sal die boer se vermoë om sy finansiële verpligtinge na te kom, erg onder druk kom. Selfs al kan hulle die gevolge van die rampspoedige vloede oorkom, sal hulle steeds afhanklik wees van die infrastruktuur wat erg beskadig is,” aldus Marais.
Land moet nog baie leer
Intussen meen Marais Suid-Afrika het nog baie om te leer oor vloedbeheer. Hy verwys spesifiek na prof. Hannes Rautenbach van die Universiteit van Pretoria se voorspelling verlede jaar dat meer reën oor korter tydperke in die toekoms gaan voorkom.
"Hierdie voorspelling op sigself moes al daartoe gelei het dat vloedbeheermaatreëls nagegaan moes gewees het”.
Volgens Marais is hulle bly dat verskeie ministers dadelik stappe geneem het om hulself te vergewis van die situasie rondom die oorstroomde gebiede in die land.
18 Januarie 2011