
KwaZulu-Natal se departement van landbou hou op 25 Januarie ’n werkswinkel saam met verteenwoordigende organisasies in die georganiseerde landbou om oor moontlike ramphulp vir boere wat deur die droogte geraak word, te gesels.
Volgens mnr. Mnr. Clive van der Spuy, ’n boer van die Richardsbaai-omgewing in die noorde van KwaZulu-Natal, het klein- en bestaansboere dringend hulp nodig het. “As jy hier in die afgeleë areas rondry, dan sien jy hoe lê die karkasse rond van diere wat van honger en dors gevrek het,” verduidelik hy.
Mnr. Jurie Mentz, koördineerder van Graan SA se Ontwikkelende Landbouprrogram in KZN, lei droëland-kleinboere regdeur die provinsie reeds erge skade hierdie seisoen. Weens min reën, wat in klein hoeveelhede en ongereeld voorgekom het, is die stand swak. “Boonop is hier is mielies wat nog nie ’n meter hoog is nie en reeds in die saad staan. Ons hoop vir goeie reën einde Januarie, want daar is nog genoeg graan wat gunstig hierop sal reageer, ondanks die skade,” meen Mentz. Volgens Mentz is dit te vroeg om te bepaal wat die omvang van die skade sal wees.
Volgens Canegrowers se uitvoerende direkteur, mnr. David Wayne, het die Hluhluwe-omgewing aan die Noordkus slegs 36% van die gemiddelde langtermyn reënval oor die afgelope twee maande gehad en verkeer hulle tans in ’n groen droogte. “Die suikerriet is groen, maar daar is nie noemenswaardige riet-groei nie. Die uiteindelike oes van hierdie riet is dus baie kleiner,” sê hy.
Volgens Canegrowers se analises het die langtermyn gemiddelde (LTG) reënval vir die Zululand-omgewing oor die afgelope dekade met meer as 10% afgeneem. “Vir die tydperk van 1948 tot 2004 is die LTG jaarlikse reënval vir hierdie omgewing 1 042mm. Die huidige LTG vir die tydperk van 1948 tot 2014 is slegs 919mm. Dit toon ’n afname van 123mm deur slegs die afgelope dekade se reënval in ag te neem,” sê Wayne.