
Nadat drie mense en meer as 1 000 skape en bykans 400 beeste omgekom het en duisende hektare se weiding en voerbale tot as verminder is, is daar steeds onsekerheid oor die hulp van die Regering aan slagoffers.
“Ons het reeds aan beide die Oos-Kaapse en KwaZulu-Natalse provinsiale regerings die nodige inligting verskaf. Dit is egter onduidelik wanneer hulle hierdie aansoeke om ramphulp sal verwerk,” verduidelik me. Farrah Biggs, die sekretaresse vir die Cedarville- en Distrik-landbouvereniging.
Die brand in die Cedarville-omgewing, wat die lewens van drie begunstigdes op die regeringsplaas Brookside, geëis het, sê die oorsaak is steeds nie bepaal nie. Volgens Biggs het dit ongeveer 2 km buite Cedarville na-aan die R56 pad begin. Die brand het binne minute meer as 15 km ver gesprei.
Die Miles-familie, van die plaas Con Amor net buite Cedarville, het meer as 6 000 voerbale, al die weiding op hul plaas en honderde diere in die brand verloor. “Dit is tragies en hartseer, maar dit is nou verby en ons moet aangaan. Ons kan nie staan en vinger wys nie – dit gaan ons niks help nie,” verduidelik Rown Miles.
Die Oos-Griekwalandse gemeenskap se eensgesindheid en kultuur van welwillendheid is in die nadraai van die verwoestende veldbrande wat op 15 Junie hier gewoed het, bevestig. “As dit nie vir die gemeenskap was nie, dan weet ek nie hoe ons dit sou maak nie. Daar is nie woorde vir ons dankbaarheid vir al die aalmoese wat ons uit die gemeenskap ontvang het nie. Dit gee ’n mens nuwe moed en maak ’n mens positief oor die toekoms, ten spyte van die huidige omstandighede,” verduidelik Miles.
Op Brookside het van die woonhuise ook in die slag gebly buiten die 144 Sussex-beeste wat in die brand omgekom het. Volgens dr. Dawid Killian, ’n plaaslike veearts en mentor vir hierdie plaas, het oorledenes nie probeer vuurslaan nie, maar diere uit die pad van die vuur probeer kry. “Toe ons weer sien, toe het die vlamme hulle oorval,” verduidelik hy.
Volgens Dr. Killian het die provinsiale provinsiale regering van KZN beloof om weiding op ander regeringsplase beskikbaar te stel en ook om die huise te herstel, maar tot op hede het niks nog gerealiseer nie.