
Die wolmark het sy goeie lopie voortgesit en die Cape Wools Merino-aanwyser styg met 4,7% om te sluit op R153,70/kg (skoon). Op die Australiese mark was die aanwyser 1,1% hoër, terwyl die Cape Wools Alle Wol-aanwyser ook met 4,7% gestyg het.
Volgens Cape Wools was wolkopers dit eens dat die mediumlengte wol teen 'n diskonto verhandel het terwyl langer en beter gehalte wol 'n premie ontvang het. Die aanbieding was klein en die mark is goed ondersteun deur die verswakking in die rand.
Die rand, teen R14,05, was sowat 4,7% swakker teenoor die Amerikaanse dollar vergeleke met die vorige veiling. Teen R15,85 was die rand 4,8% swakker teen die euro.
Altesaam 98,2% van die 6 808 bale wat op die veiling aangebied is, is verkoop. Die grootste kopers op die veiling was G Modiano SA (1 997), Standard Wool SA (1 750), Lempriere SA (1 469), en Stucken & Co (797).
Die gemiddelde skoonwolpryse vir die seleksie binne die verskillende mikronkategorieë goeie, lang kamwoltipes (MF5) was:
18,0 mikron neem toe met 5,8% en sluit teen R163,58/kg.
18,5 mikron neem 3,8% toe en sluit teen R161,70/kg.
19,0 mikron styg met 5,0% en sluit teen R161,04/kg.
19,5 mikron styg met 5,4% en sluit op R160,15/kg.
20 mikron versterk met 4,1% tot R158,14/kg.
20,5 mikron styg 4,3% en sluit op R158,33/kg.
21,0 mikron neem toe met 2,4% en sluit op R154,66/kg.
21,5 mikron styg met 4,5% tot R157,91/kg,
22,0 neem toe met 4,3% en sluit op R155,98/kg.
22,5 mikron neem toe met 5,4% en sluit op R150,83/kg.
Die volgende veiling is geskeduleer vir 7 September 2016 wanneer sowat 9 474 bale aangebied word.