
November se totale voertuigverkope van 46 413 eenhede is 9,6% minder as die getal nuwe voertuie wat in November 2015 van die hand gesit is, sê die National Association of Automobile Manufacturers of South Africa (Naamsa).
Terloops, die jaar-tot-datum verkope van nuwe voertuie het vanjaar reeds met 11% gekrimp.
Mnr. Simphiwe Nghona, hoofbestuurder van WesBank se kleinhandelsverkope, sê dit is veral in die premium-marksegment waar verbruikers ‘n stryd voer teen die bekostigbaarheid van nuwe voertuie.
Minder passasiersvoertuieTerwyl 13,8% minder nuwe passasiersvoertuie in November verkoop is, het die jaar-op-jaar verkope van nuwe bakkies met 1% gegroei danksy nuwe modelle en uiters mededingende aanbiedinge.
Ford South Africa spog nie ‘n bietjie nie met sy hoogste markaandeel nog van 17,3% in November en ‘n jaar-op-jaar groei in verkope van nie minder nie as 6%! Die 3 680 nuwe Rangers wat in November verkoop is, dra by tot dié vervaardiger se jaar-op-jaar markaandeel van 15% … en, dit is ook die tweede agtereenvolgende maand wat Ford méér Rangers van die hand sit as Toyota se Hilux-verkope.
Mnr. Neale Hill, Ford se direkteur vir bemarking, verkope en diens in die sub-Sahara-streek, sê hulle is in hulle noppies, want die November-verkope was die beste die afgelope twee jaar en ook die beste verkoopsvertoning nóg deur die Ranger-reeks.
Uit vertoonlokaleAltesame 2 492 nuwe Hiulux’e is in November uit vertoonlokale gery.
Mnr. Calvyn Hamman, Toyota SA Motors se senior visie-president vir verkope en bemarking, sê buitengewone aansporings en hoë voorraadbeskikbaarheid deur ‘n hele aantal (ander) vervaardigers het die Hilux tydelik tot die tweede plek op die verkope-telkaart vir die maande teruggeskuif. Die Hilux se verkoopsvolume vir die jaar-tot-datum is egter nog op koers om die jaar in die boonste posisie af te sluit.