
Die droogte het nie die wyndruif-oes gekelder nie, maar eerder help bydra tot ’n oesjaar wat besondere wyne gaan oplewer.
Volgens die wynbedryfsliggaam VinPro is daar vanjaar bykans 1,4 miljoen ton druiwe gepars – sowat 1% meer as verlede jaar. Teen ’n gemiddelde verhaling van 776 liter per ton druiwe, beteken dit die wyn-oes (wat sap en konsentraat vir nie-alkoholiese doeleindes, wyn vir brandewyn en distilleerwyn insluit) sal net meer as 1,1 miljard liter beloop.
Volgens mnr. Francois Viljoen, bestuurder van VinPro se wingerdboukundige konsultasiediens, het die bedryf eintlik vanjaar gereed gemaak vir ’n ligter oes, omdat die seisoen vir die tweede jaar agtereenvolgens baie droog en warm was.
'Droogte gebuffer'
“Die koeler nagte regdeur die groeiseisoen en die afwesigheid van noemenswaardige hittegolwe gedurende parstyd het egter die effek van die droogte tot ’n mate gebuffer.”
Heelwat groter oeste is in die Swartland- en Paarl-streke aangeteken, ná hierdie druiweboere se oeste verlede jaar kwaai geduik het weens die droogte. Robertsonse produsente het byna-byna weer die rekord-oes van verlede jaar herhaal. Ook in die Olifantsrivier- en Breedekloofstreke is daar effens groter oeste ingesamel.
By Arendsig Wyne naby Robertson moes mnr. Lourens van der Westhuizen, eienaar-wynmaker, behoorlik bontstaan in die kelder om betyds te oes en sy vinger op die wyn te hou.
Logistieke nagmerrie
“Dit was ’n logistieke nagmerrie, want die oes het stadig begin, maar toe is alles ewe skielik gelyktydig ryp. Dit was ook die eerste keer dat ons nog besig was met wit kultivars, toe is die rooies al reg.”
Reënval was steeds ondergemiddeld en veral in die warmer maande moes boere mooi dink oor besproeiing, sê Viljoen.
“Die droë toestande het egter uiters gesonde wingerde meegebring en die kleiner korrels wat daaruit spruit, het goeie kleur- en geurkonsentrasie. Die ideale koeler weerstoestande gedurende parstyd was ook perfek vir gehalte.”
Hou asem op vir reën
Volgens Van der Westhuizen is boere bekommerd oor dat hulle te min water van goeie gehalte het en almal hou asem op vir reën. Viljoen sê goeie na-oes- en winterreënval is nou belangrik.
Die Klein-Karoo se oes was egter heelwat af, grootliks weens die droogte. Heelwat wingerd is ook in die gebied uitgetrek en nie vervang nie.
Noord-Kaapse druiweboere het heelparty uiterstes ervaar en daar was ook groot variasie tussen die boere. Reënbuie het ook dié streek se oesdatum sowat twee weke later gemaak.
Stellenbosch en Worcester het ook kleiner oeste aangeteken.
Verbruikers kan uitsien!
Maar dis die gehalte van 2017 se wyne waarna verbruikers moet uitsien.
“Die kwaliteit is egter uitstekend en by ons het die sure verbasend mooi gehou. Veral die vroeë kultivars, soos Sauvignon blanc, wys op die oomblik ontsettend mooi. Die Chardonnays het ook bleddie mooi gegis,” vertel Van der Westhuizen.
Me. Siobhan Thompson, hoof uitvoerende bestuurder van Wines of South Africa, sê gesprekke met produsente dui daarop dat dit een van die beste oeste in jare was, veral wat gehalte betref.
“Ons sien uit daarna wat die effek van hierdie uitsonderlike oesjaar in internasionale markte gaan wees.”