
Mnr. Mthobeli Mxotwa, woordvoerder vir mnr. Gugile Nkwinti, minister van Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming, sê die herinstelling van onder meer ras soos in die wetsontwerp oor die regulering van grondbesit “is die enigste manier om grondhervorming akkuraat te kan meet,” berig Volksblad. Ras is tans nie ’n vereiste by die aktekantoor nie.
Volgens Mxotwa gaan dit egter nie net oor ras nie en “wil diegene wat dit propageer net konflik tussen grondeienaars en die minister veroorsaak”.
Dr. Theo de Jager, voorsitter van Agri SA, sê die rasdebat oor grondbesit is oud, met net ’n nuwe hoek wat nou gebruik word. “Daar lê beslis iets anders daaragter. Die beoogde plan is ook nie versoenbaar met die ideaal van ’n nie-rassige samelewing nie.”
“Beter alternatiewe of aanduidings moet ontwikkel word om die mite uit te roei dat alle grond wat nie aan die Regering behoort nie, aan wit mense behoort,” het mnr. Thomas Walter, DA-woordvoerder vir landelike ontwikkeling en grondhervorming, gesê.
Bron: Volksblad.