
’n Finansiële reddingsboei en hoe insetkoste vir die pluimveebedryf verlaag kan word, is die planne waaraan die Regering werk om die land se hoenderbedryf van ondergang te red.
Adj.-pres. Cyril Ramaphosa het die planne aangedui toe hy vrae in die Nasionale Raad vir Provinsies beantwoord het. Mnr. Mntomuhle Khawula, IVP-LP wou by hom weet of enige planne bestaan om die Suid-Afrikaanse hoenderbedryf van ondergang te red en wat daardie planne is. Die krisis wat die plaaslike hoenderbedryf tans beleef is grootliks weens die invoer van goedkoop hoender uit die Europese Unie.
Ramaphosa het geantwoord dat die Regering alles moontlik binne die reëls van die Wêreldhandelsorganisasie en die land se handelsooreenkomste sal doen om streng reëls in te stel om die land se hoenderbedryf van storting en ander onregverdige handelspraktyke te beskerm.
Werk saam met private sektor
“Deur met die private sektor saam te werk, sal die Regering aansporingsmaatreëls instel om die bedryf te beskerm om met produksie voort te kan gaan, werke te red en om voedselsekuriteit te verseker.
Twee taakspanne, ’n regeringstaakspan, én een waar die Regering, die sakesektor en arbeid betrokke is, is reeds op die been gebring om dringend na die situasie in die pluimveebedryf te kyk en oplossings te vind
“Dit is kritiek dat Suid-Afrika sy produksievermoë regoor die waardeketting vir hoenders bewaar. Dit is volgens ons belangrik siende dat hoenderprodukte ’n belangrike bron van proteïene vir die meerderheid van ons mense is en die bedryf is ’n belangrike werkgewer in ons ekonomie.”
Ekonomiese ontleding
Ramaphosa het uitgewys dat die taakspan hom besig om ’n ekonomiese ontleding te doen van die bestaande situasie regoor die waardeketting en ook om ’n plan van aksie te ontwikkel om die bedryf te ondersteun wat vraag en aanbod inisiatiewe en -maatreëls insluit:
* ’n Reeks handelsmaatreëls om die bedryf te ondersteun binne die reëls van die WHO en die land se handelsooreenkomste word oorweeg.
* Bedryfsfinansiering en aansporings wat gekoppel sal word aan wedersydse voorwaardes wat transformasie, behoud van die werksmag en investering sal insluit.
* Daar word ook gekyk na maatreëls wat die koste van insette sal verlaag en globale mededingendheid kan verhoog.
Ramaphosa het benadruk dat die Regering met spoed sal beweeg om die bedryf te help.
Beide die SA Pluimveevereniging (SAPV) en die Food & Allied Workers Union (FAWU), het onlangs by die Parlement se portefeuljekomitee vir landbou, bosbou en visserye gepleit dat die Regering daadwerklik moet ingryp om die hoenderkrisis op te los deurdat ’n reguleringsraamwerk daargestel word wat groei en volhoubaarheid in die plaaslike bedryf ondersteun. Dit moet ook buitensporige subsidiëring en storting van ontwikkelde lande voorkom.