“Dit moet ons skok dat tot nou 227 diere onwettig doodgemaak is. As ons dit in ag neem sal ons nie ver verkeerd wees deur te voorspel dat die stropery van renosters tot 300 diere kan styg teen die einde van 2010 nie”, sê me. Bulyewa Sonjica, die Minister van Omgewingsake en Waterwese.
Sonjica het tydens die Renosterberaad in Pretoria gesê sy is hartseer oor die feit dat renosterstropery tans die land se goeie reputasie ten opsigte van die beskerming van renosters in die wiele ry. Sy is egter ook opgewonde oor die feit dat die land tans teen dié misdaad saamstaan.
Suksesvolle beskerming tot 2007
Volgens Sonjica het die land die spesie tussen 1960 en 2007 suksesvol beskerm. In 1960 het die renosterspesies op die punt gestaan om uit te sterf. Sedertdien het die voortbestaan van die spesie voorrang geniet en in 2007 het die swartrenostergetalle op 35% gestaan, terwyl die
witrenosterpopulasie 93% was.
Renosterstropery het volgens Sonjica sedert 2008 vinnig toegeneem, asook die handel in wettige en onwettige voorrade van renosterhorings.
Oplossings?
Die Minister het aangekondig dat ‘n Nasionale Wildsmisdaad Reaksie-eenheid, wat deur haar departement gelei en deur Sanparke bestuur sal word in Oktober in werking sal tree. Dié eenheid sal onmiddellik op enige misdaad wat met wild verbind word reageer, asook fokus op die smokkel van wild en wildprodukte.
Sy het ook die departement se nasionale strategie vir die veiligheid en sekuriteit van renosterpopulasies in Suid-Afrika bekendgestel. Die departement beplan ook tans ‘n bilaterale besoek aan Viëtnam om die kwessies rondom die smokkel van renosterhorings asook die wettige uitvoer van witrenostertrofees te bespreek.
Sonjica sê hulle gesels ook tans met die Departement van Internasionale Verhoudings en Samewerking oor moontlike bilaterale ontmoetings met China en Japan om onder andere wette rondom wild te bespreek.
5 Oktober 2010