
Die SA Weerdiens se seisoensvooruitskou-kaarte vir die drie maande tot einde Desember wys duidelik die groot waarskynlikheid dat ondergemiddelde reënval en bogemiddelde temperature in dié tyd oor bykans die hele land kan heers.
Nadat die super-El Niño, wat Suid-Afrikaners steeds onder ’n rekorddroogte laat steier, vroeër vanjaar uiteindelik die wyk geneem het, het die aanvang van die somerreëntyd nog net teleurgestel. In talle gebiede is nog geen reënval aangeteken nie. Waar dit wel gereën het, was die neerslae bitter skraps.
Van die hoogste totale sedert September in die belangrikste droëland-somersaaistreke was minder as 30 mm. By Bethlehem se weerstasie is 19 mm sedert September aangeteken, by Harrismith, Senekal en Davel 14 mm, by Sannieshof 9 mm, by Balfour 12 mm, by Carolina 10 mm, by Ermelo 27 mm, by Irene 13 mm, by Ogies 12 mm, by Piet Retief 20 mm en by Standerton 27 mm.
Die hoop vervaag
Intussen vervaag die hoop op ten minste ’n swak La Niña wat teen Suid-Afrika se somer verligting kan bring. Die meeste internasionale klimaatmodelle wys die ENSO-indeks, wat die stand van La Niña of El Niño aandui, gaan waarskynlik tot die einde van die somer neutraal bly.
Net twee van die agt modelle dui op ’n moontlike kortstondige, swak La Niña teen die einde van vanjaar.
Die kommersiële weervoorspellingsdiens AccuWeather beaam die feit dat die kans skraal is dat die La Niña waarop gehoop is, vanjaar gaan materialiseer.
Uitkyk vir gunstige toestande
La Niña word gekenmerk deur buitengewoon lae seetemperatur in die sentrale en oostelike Stille Oseaan. Toe die afgelope super-El Niño in Junie ten einde geloop het, het voorspellers begin uitkyk vir toestande gunstig vir die ontwikkeling van La Niña in die lente en somer, wat dikwels met bogemiddelde reën in Suid-Afrika se somerreëngebied gepaardgaan.
Die Stille Oseaan-seetemperature moet egter vir vyf agtereenvolgende tydperke van drie maande elk ten minste ’n halwe graad Celsius of meer onder die gemiddelde wees voordat La Niña amptelik heers, verduidelik AccuWeather.
Voorspellers meen nou daardie kriteria gaan waarskynlik nie vanjaar gehaal word nie.
Accuweather berig daar is wel nog ’n kans van rondom 30% dat ’n amptelike La Niña wel later hierdie seisoen verklaar word.
Laat nuus: Mnr. Thys Grobbelaar, markontleder van Senwes, skryf: Die Suid Afrikaanse Weerburo voorspel steeds 'n bo-gemiddelde seisoen. Alhoewel dit later as normaal waarskynlik gaan begin. Sou die seisoen nie ‘n La Niña-seisoen gaan wees nie, maar eerder ‘n neutrale seisoen, is nie so 'n groot bekommernis vir my persoonlik nie. Die twee grootste mielie-oeste in die Suid-Afrikaanse geskiedenis het gedurende normale seisoene (nie El Niño of La Niña) gerealiseer, naamlik 1980/’81 met 14,66 miljoen ton en 2013/’14 met 14,25 miljoen ton. My rekords dui daarop dat neutrale en La Niña-tipe seisoen bykans dieselfde uitkoms het wat mielie-opbrengste aanbetref.
Die indekse wat gebruik word om La Niña of El Niño tipe seisoene voorspel is ook nie so negatief nie. Die klimaatsvooruitsigte is volgens my opinie nie so duister nie.