
Dele van Sentraal- en Wes-Vrystaat, asook die noordwestelike gedeeltes van Noordwes, het nou dringend reën nodig, sê Graan SA. “Opvolgreën is regtig nou kritiek. Dit kan die oes maak of breek,” sê me. Petru Fourie, ekonoom van Graan SA, luidens ’n nuusbrief.
Die organisasie se opname vir produksietoestande vroeër vandeesmaand dui aan dat veral saailinge in die omgewing van Brandfort, Theunissen, Bloemfontein, Hertzogville en Hoopstad swaarkry. In die omgewing van Delareyville en Vryburg het min reën geval.
“Opvolgreën is wydverspreid dringend nodig aangesien die swak ondergrondse vogsituasie nog nie herstel is nie en die jong saailinge begin swaar trek,” aldus Fourie.
Versuip- en haelskade
Intussen verwag die organisasie dat oeste in Mpumalanga plek-plek deur versuipskade benadeel gaan word. Groot haelstorms wat gedurende November verlede jaar voorgekom het, het ook skade veroorsaak.
“Oor die algemeen lyk die mielie-oes belowend, die versuipkolle en haelskade uitgesluit,” vertel Fourie. “Sojabone lyk hier en daar nie so goed nie – dis gelerig, en dit is hoofsaaklik weens die nat en koue toestande wat voorgekom het.”
Gemiddelde oeste word in KwaZulu-Natal verwag, met die seisoen wat in dié dele sowat ’n maand later is weens laat reën. Opvolgreën is ook nodig oor dele van die provinsie.
Volgens Fourie lyk oeste in die Oos-Vrystaat “baie belowend. Dit is een van die areas wat die beste lyk en wat gereeld opvolgreën kry”.