Groot dele van die sentrale en noordelike dele van Suid-Afrika kort dringend reën omsomergewasse te kan aanplant.
Mnr. Henk Vermeulen, hoofbestuurder van Vrystaat Landbou, sê die boere in dié provinsie is moedeloos. Die meeste van hulle moes op die laatste teen 15 November al begin plant het, maar weens droë toestande kon hulle nog nie plant nie.
“Vir party raak die tyd nou baie min. As dit teen die einde van dié week nog nie gereën het nie, gaan sommige daaraan begin dink om eerder mielies aan te koop, want die risiko word net te groot,” vertel Vermeulen. “Die ouens smag na die reën wat in Noordwes geval het, maar ons hoop nog.”
Mnr. Neels Ferreira, voorsitter van Graan SA, sê die Oos-Vrystaat, waar die planttyd gewoonlik tussen 10 en 15 November sy hoogtepunt bereik, is dit baie droog. Groot dele van Mpumalanga trek ook swaar sonder reën.
Laat oes
Ferreira sê hulle verwag dat veral in die oostelike dele die oes veel later as gewoonlik sal wees.
Intussen sê mnr. Dirk Hanekom, hoofbestuurder van Agri Gauteng, ten spyte van goeie reën wat in die stedelike gebiede val, is die suidoostelike dele van dié provinsie nog baie droog. “Die sentrale en westelike dele het al reën gehad, maar veral die boere rondom Devon en Nigel sê hulle kry net donderweer en stofreën.”
Volgens Hanekom sê boere in die distrikte Westonaria en Carletonville hulle is baie dankbaar vir die milde reën wat hulle gekry het. “Dit was net betyds.”
In die Noord-Kaap en KwaZulu-Natal kom net geïsoleerde reënbuie tans voor. Mnr. Johan van Rensburg, hoofbestuurder van Agri Noord-Kaap, sê veral die Vaalharts- en Douglas-omgewings het al reën gehad. “Die res van die provinsie is nog maar droog.”
Me. Sandy la Marque, hoofbestuurder van KwaNalu, sê uiterse droeë toestande kom tans in dié provinsie voor. “Dit het al gereën, maar dit is baie geïsoleerd, en die boere wil graag plant.”
Noordwes en Limpopo
In Noordwes en Limpopo lyk die prentjie egter anders. In albei provinsies het goeie reën in die algemeen geval. Mnre. Cor van Vuuren, voorsitter van Agri Noordwes, en Francois van den Berg, voorsitter van Agri Limpopo, sê die meeste gebiede in dié provinsies het al goeie reën gehad.
“Die meeste terugvoer wat ek kry, is van tussen 30 mm en 40 mm, maar kol-kol is tot tussen 60 mm en 70 mm gemeet. Die meeste boere kan dus nou begin plant,” vertel Van Vuuren.
“Dié reën was soos manna uit die hemel. Ná die brande in Noordwes het ons ’n groot krisis met weiding gehad, maar nou sal die gras oor ’n week of so groen begin uitstoot. Hierdie winter het regtig groot eise gestel.”
Van den Berg sê die meeste landerye in Limpopo is onder beproeiing, maar dat die meeste van die groenboonboere ná die reën al kon begin plant.
Hy sê vrugteboere in die Tzaneen-omgewing het groot haelskade aangemeld en mango’s behoort in die komende seisoen skaars te wees. “Daar is wel nog plekke hier by ons wat regtig droog is.”
23 November 2011