
Die Agbiz-IDC-indeks van landbousakevertroue was in die eerste kwartaal van vanjaar op 57 punte, twee indekspunte hoër as die vorige kwartaal. Mnr. Wandile Sihlobo, hoof van ekonomiese en agribesigheidsnavorsing by Agbiz, die landboubesigheidskamer, sê 'n punt bo 50 dui op uitbreiding in agribesigheidsbedrywighede.
Die indeks was nou drie opeenvolgende kwartale bo 50. Agrisakelui se vertroue rakende netto bedryfsinkomste en omset het in die eerste kwartaal van vanjaar onderskeidelik met 23 indekspunte tot 69 en 6 indekspunte tot 72 gestyg.
Sihlobo sê dit dui daarop dat sommige landbouondernemings, danksy vooruitsigte vir 'n goeie 2016/’17-produksieseisoen, 'n verbetering in winsgewendheid verwag. Vertroue in Suid-Afrika se ekonomiese groei het met 16 indekspunte tot 50 gestyg, wat strook met die Reserwebank se verwagting dat die ekonomie vanjaar met 1,1% kan groei, vergeleke met 2016 se 0,4%.
Sihlobo sê die verwagte beter someroeste vir die 2016/’17-seisoen en die beter koringoes in die 2015/’16-seisoen het waarskynlik grootliks daartoe bygedra dat die subindeks vir algemene landboutoestande met 4 indekspunte tot 69 gestyg het.
Belegging
Hoewel die indeks in die algemeen dus 'n bemoedigende prentjie van die landbousektor skets, en die sektor na verwagting vanjaar danksy beter reën beter gaan presteer as verlede jaar, wys Sihlobo op sakelui se minder optimistiese siening oor kapitale belegging.
Sihlobo sê die daling van 13 indekspunte tot 56 kan waarskynlik toegeskryf word aan toenemende verwysings na “radikale ekonomiese transformasie” en omstrede uitlatings oor grondhervorming.
“Verwikkelinge rakende grondhervorming, veral uitlatings van ‘onteiening sonder vergoeding’, kan potensieel in die voorsienbare toekoms beleggings in die landbousektor ontmoedig,” sê hy.