
Op plase rondom Vredendal wat volgens mnr. Gideon van Zyl van die plaas Wilgenhof ’n “sleg winter tot nou toe” gehad het, het die eerste ordentlike reën geval. Van Zyl het 42 mm op 10 en 11 Augustus gemeet. “Die Olifantsrivier is besig om af te kom, ons hoop hy stoot oor die wingerde sodat die grond ’n slag diep nat raak.”
Ná die uitdrogende oostewind en hitte wat die gebied einde Julie en begin Augustus geteister het, was die reën ook ’n groot uitkoms vir die groenteboere van daardie gebied. “Dit lyk nou sommer anderster,” sê Van Zyl. Mnr. Cobus Bester van die UD-boerdery buite Moorreesburg het 34 mm reën gemeet.
Hy reken die graanvooruitsigte lyk nou gemiddeld tot bo-gemiddeld. “Landboutoestande het heelwat verander in die laaste twee weke omdat ons genoeg vog en koue gehad het.” Volgens hom groei die medicsweiding goed, maar stadig. Op die plaas Langkloof buite Riebeek-Wes het mnr. Alwyn Dippenaar 35 mm reën gemeet en 17 mm tussen 5 en 6 Augustus. Hy reken omstandighede het “oornag verbeter”.
“Ons het taamlik afloopwater en die damme het water gekry.”
Baie goeie toestande
Mnr. Koos Blanckenberg van die plaas Klipheuwel, Durbanville, sê in sy omgewing is 30 tot 50 mm reën gemeet en die toestande is baie goed. “Ons het te min reën die tweede helfte van Mei gekry, maar vanaf 1 Junie het ons nog nie een dag te nat of te droog gehad nie. Hier staan ’n mooi oes.”
By Piketberg het mnr. Abrie Rich ter 42 mm reën op sy plaas Panorama gemeet en 19 mm op sy grond in die Rooi Karoo, waar dit tot dusver ’n moeilike seisoen is.
Mnr. Johannes Joubert van die plaas Kweekkraal, Riversdal, sê ook daar lyk vooruitsigte baie goed. “Die kanola het goed geblom en die blomme het nou begin afval. By die koring en gars begin die are verskyn en die weiding lyk ook goed.”
“Baie nat, maar tevrede,” is hoe mnr. Willie Smal van die plaas Hammansdal buite Caledon boerderytoestande daar opsom. Hulle het die tweede week van Augustus 20 mm reën gekry, maar het reeds vanaf middel Julie 80 mm gekry. “Die damme is lekker vol en dis ’n groot gelukkie, maar die skaapkos is min. Dis so koud, die weidings het nie groeikrag nie.