
Agbiz en die Nywerheidsontwikkelingskorporasie se landbousakevertrouensindeks was in dié kwartaal, op 62 punte, 12 punte laer as in die laaste kwartaal van 2021, toe dit die tweede hoogste vlak ooit bereik het. Van die tien subindekse het vertroue in agt gedaal.
Mnr. Wandile Sihlobo, hoofekonoom van Agbiz, sê die indekspunt van 62 weerspieël steeds gunstige toestande, hoewel nie so sterk as in vorige onlangse kwartale nie. Die meeste respondente het hul response ná 24 Februarie gestuur, die dag dat Rusland Oekraïne ingeval het.
Vertroue in die algemene landbousaketoestande het met 28 punte tot 60 geval. “Die oormatige reën sedert die begin van die somergewasseisoen, skade aan oeste in sekere streke en dieresiektes by lewende hawe weerspieël alles in respondente se somber luim oor die landbouproduksietoestande,” sê Sihlobo. Dit is volgens hom belangrik dat die punt steeds bo die neutrale merk van 50 punte is, wat wys dat produksietoestande steeds op bogemiddelde vlakke is.
Vertroue in algemene ekonomiese toestande het met 25 punte tot 48 geval. “Dit weerspieël die onsekerheid in die huidige geopolitieke omgewing, ’n algemene verstadiging in die wêreldekonomie, en plaaslike gebeure soos beurtkrag.”
Omset en netto bedryfsinkomste het met onderskeidelik 7 en 6 punte gedaal, tot 86 en 79. “Die sentiment is hoofsaaklik deur die verwagte laer someroes gedemp, wat landboubesighede in die veldgewasse-, lewendehawe- en landboumasjineriebedryf benadeel het.”
Vertroue in kapitaalbeleggings het met 13 punte tot 67 gedaal. “Die stygende koste van boerderyproduksiemiddele en algemene onsekerheid oor die potensiële ekonomiese oorloop van die Rusland-Oekraïne-oorlog sal waarskynlik boere en landboubesighede se buigbaarheid beperk om in nuwe masjinerie of nuwe sakeondernemings te belê,” sê Sihlobo.
Die subindeks wat vertroue in volume uitvoer meet, het met een punt tot 78 gedaal, wat volgens Sihlobo verband hou met die potensieel kleiner oeste van somergewasse en sommige tuinbouprodukte. Die punt dui steeds op gesonde uitvoertoestande.
Sihlobo sê in die algemeen toon die vertrouensvlak dat die sektor steeds op ’n stewige voet is, ondanks die onsekerheid weens geopolitieke gebeure en die skade wat oormatige reën in verskeie streke veroorsaak het.
“Die kwessies waaroor ons tans die bekommerdste is, is die stygende koste van brandstof, kunsmis en landbouchemikalieë, wat boere se plantbesluite in die komende seisoen nadelig kan beïnvloed. Dit is alles weens die Rusland-Oekraïne-oorlog en reeds bestaande aanbod- en logistieke beperkings wat deur die covid-19-pandemie veroorsaak is.
“Ons twyfel of die hoër kommoditeitspryse voldoende sal wees om vir die stygende koste te vergoed.”