
Mnr. Thinus Steenkamp, hoofbestuurder van die Vrystaatse sambreel-brandbestrydingsvereniging, sê gemiddeld 30 mm is op plekke in die munisipale gebied van Phumelela (Warden, Vrede en Memel) aangeteken waar veldbrande minstens 9 000 ha vernietig het.
Ander kleiner onlangse brande wat deur weerlig veroorsaak is, kon gelukkig onder beheer gebring word voordat omvangryke skade aangerig is. Steenkamp waarsku dat die risiko vir brande in die gebied nietemin steeds hoog is met sterk winde. Produsente is gevra om die brandgevaar-indeks in ag te neem voordat weiding gebrand word.
Die afgelope brande, veral in die distrik Harrismith, het bygedra daartoe dat die Vrystaat een van sy ergste brandseisoene in jare beleef met minstens 350 000 ha wat in die slag gebly het. Drie jaar gelede is altesaam 474 000 ha in die provinsie afgebrand.
Mnr. Malcolm Procter van die Vrystaatse departement van landbou, sê agt mense het in brand-verwante voorvalle omgekom en 25 mense is beseer. Duisende stuks vee het verbrand, en agt huise en talle stukke toerusting asook voertuie het in die slag
gebly. In ’n brand by Harrismith gedurende September het sowat 40 000 ha se weiveld afgebrand.
Procter sê baie meer brande word aangemeld, wat nie voorheen die geval was nie. Die merkbare verandering in die seisoene, met reën wat gemiddeld drie tot vier weke later val as vantevore, dra ook hiertoe by. Hy ontmoedig landbouers om die praktyk van brande vir vroeë weiding toe te pas, veral omdat koue fronte met sterk winde ook later voorkom.
Landbouers en brandverenigings word ook aangemoedig om die praktyk van voerbanke op plase toe te pas. In die omgewing van Memel word voerbanke op die onderste punt van plase ingerig, want dit is meestal waarheen die vee vlug en die kans
om ’n brand te stuit voor dit dié gebied bereik, is beter.
Die veldtog om hulpbehoewende veeboere in die brandgeteisterde dele van die Vrystaat te help, verloop tot dusver betreklik traag. Vrystaat Landbou (VL) is een van die instansies wat met behulp van die media en die sosiale media ’n beroep gedoen het vir die skenking van veevoer en hulp met die vervoer daarvan. Tot op hede het VL die skenking van 4 500 bale voer gekoördineer. Slegs 820 bale daarvan is oor die provinsie heen afgelewer. Een van die instansies wat wat ’n vrag voer geskenk het was Voermol met VL wat die vervoer van dié skenking behartig het. Volgens me. Alani Janeke van VL stroom die navrae oor bydraes van landboubesighede in. Wes-Kaapse produsente het tot dusver die meeste bygedra tot die brandhulpfonds wat tans sowat R44 000 beloop. Aanbiedinge kan per e-pos na cynthia@vslandbou.co.za gestuur word of me. Cynthia Troost kan by 051 4444 609051 4444 609 geskakel word. Sowat R20 000 van die nagenoeg R50 000 van AfriForum se noodfonds vir brandslagoffers is reeds aan die organisasie se tak op Harrismith oorbetaal. Ds. Johannes de Bruyn, voorsitter van dié tak, sê AfriForum het R10 000 tot die hulpfonds bygedra, en ’n SMS-veldtog is geloods. Volgens mnr. CW Els van AgriForum was daar binne die eerste 48 uur van die SMS-veldtog reeds reaksie van sowat 2 000 mense. SMS “BRAND” na 38310 om R10 tot die hulpfonds by te dra. Kontak AfriForum by 012 644 3951012 644 3951 vir meer inligting.