Die reën wat die afgelope Paasnaweek in die winterreëngebied van die Wes-Kaap geval het, gaan nie dadelik ’n grootskaalse koringplantery van stapel stuur nie, maar is van groot waarde vir aangeplante weidings, onkruidbestryding en vroeë kanola-aanplantings.
Na ’n warm, droë somer het plase buite Heidelberg in Maart en April goeie reën gekry. Mnr. Pieter Gildenhuys van die plaas Kleinbosheuwel sê die 34 mm reën van Paasnaweek en die 52 mm reën wat hulle in Maart gekry het, het dit moontlik gemaak om reeds alle kanola en gars vir kuilvoer te plant.
“Die toestande is ideaal. Alles kom al mooi op en die weidings groei.” Ook mnr. Tienie Theunissen van die plaas Drayton, buite Caledon, het Paasnaweek 30 mm reën gekry en einde Maart 32 mm.
Die reën in Maart was die eerste keer sedert September dat dit meer as ’n outydse duim (25 mm) gereën het. Hoewel hy dink dis ietwat vroeg daarvoor, het hy reeds begin om kanola te plant.
Weiding is skaars
As gevolg van die besonder droë somer is weiding baie skaars en voer hulle die skape al vir ’n geruime tyd. Mnr. Joos Badenhorst van die plaas Langvlei in die Napky sê danksy die 6 mm en 18 mm reën wat hulle tot dusver gekry het, kan hulle vir die eerste keer in vier jaar vooropkomsbestryding van onkruid doen.
Hulle het intussen ook begin weidings, kanola en gars plant. Hoewel die reën in die Swartland tot dusver baie wisselvallig was, is boere bly oor die geleentheid vir onkruidbeheer wat die vroeë reën bied.
Mnr. Francois Eksteen van die plaas Witvlei, Piketberg, het laat Maart en in die Paasnaweek 22 mm reën gemeet, terwyl dit by Eendekuil 30 mm gereën het.
12 April 2012