
Boere hoop om die oes teen Donderdag, 6 November, of Vrydag te hervat, sê mnre. Cobus Bester van Moorreesburg en Jan-Hendrik Human van Protem.
Human, van die plaas Adowa, sê hy en die meeste van sy bure het reeds hul kanola en gars geoes en moet nog net koring en hawer oes. "Ons het die week 25 mm reën gehad, maar die koring kan dit vat. As ons die reën kry wat hulle vir volgende week voorspel, kan ons dalk probleme kry."
Bester van UD Boerdery sê hoewel hulle net 12 mm reën gekry het, het dit twee dae geneem om te val. Hulle was voor die reën halfpad deur die oes. Volgens hom is die opbrengste wat hulle in sy omgewing kry, goed vir die hoeveelheid reën wat hulle vanjaar gekry het. "Ek dink die ouens is verbaas oor die tonne wat hulle kry vir die reën wat ons gehad het."
Die gehalte is ook baie goed. "Ons stroop baie goeie grade. Meer as 80% van die koring in ons omgewing wat in 'n medicstelsel is, is eerste graad. Die grade is oor die algemeen beter as verlede jaar."
Bester is baie bekommerd oor die koringprys wat gister dieselfde as in 2008 was. "2008 was 'n baie goeie jaar en vanjaar is ons koste een en 'n half tot twee maal hoër as toe."