
Boere in KwaZulu-Natal het opnuut skade gely in die nuwe vloede die afgelope naweek en in baie gevalle is herstelwerk wat reeds gedoen was, daarmee heen, sê me. Sandy la Marque, uitvoerende hoof van Kwanalu.
Veral in die suide en noorde van Durban is groot skade aangerig deur die kwaai vloede. Meer as 400 mm reën het binne 24 uur oor die stranddorpie Umdloti uitgesak en verdere modderstortings veroorsaak in dié gebied waar sowat 120 huise volgens berigte reeds vernietig is.
La Marque sê die skade aan infrastruktuur en paaie het weens die jongste vloede vererger. Dit het ’n ernstige inpak op die vervoer van produkte en ook dienste. “Boere is normaalweg baie veerkragtig en vinnig om te reageer op vroeë waarskuwingstelsels en gryp gewoonlik voorkomend in. Hierdie twee uiterste weerstoestande so kort op mekaar het ’n groot nadelige inpak op boere se bedrywighede.
“Wat veral kommerwekkend is, is dat die skade in baie gevalle veroorsaak of vererger deur gebrekkige herstelwerk en onderhoud aan infrastruktuur, veral paaie. Ook die versuim om inderingerplante en rommel te verwyder, ’n gebrek aan behoorlike dorpsbeplanning en nog vele meer. As daar nie iets dringends aan hierdie verval in landbougebiede gedoen word nie, sal daar verdere verliese en skade wees, selfs met meer geringe voorvalle.”
Kwessies wat dringende aandag verg
La Marque sê kwessies wat dringende aandag verg en waarvoor oplossings gevind moet word om ’n nóg groter krisis te voorkom, is herstelwerk aan infrastruktuur soos paaie, konstante en ononderbroke kragtoevoer van Eskom, koste van insette soos kunsmis (wat in gevalle met 500% gestyg het) en dieselprysverhogings.
“Ernstige probleme staar die landbousektor in die gesig en toegespitste ingrypings is nodig om te verseker dat die sektor kan voortgaan om bekostigbare, veilige voedsel te produseer, werk te kan skep en in landelike gebiede te kan belê.”
In ander dele van Suid-Afrika was boere ook bekommerd oor reën die afgelope naweek, veral in die somerreëngebied waar gestroop word.
Mnr. Stephen Krüger van die gespreksgroep Basis-Diff het oor die naweek in Viljoenskroon 32 mm reën gehad en sy kommer uitgespreek oor die stroopproses vorentoe.
Talle ander boere het ook kommer uitgespreek oor die nat toestande in lande.
By Makwassie en Sasolburg was daar oor die naweek 32 mm reën en by Vredefort 45 mm wat met hael gepaard gegaan het.