
Die afgelope twee weke se reën is “te min, te laat,” sê mnr. David Wayne, uitvoerende direkteur van Canegrowers, die bedryfsorganisasie van suikerrietboere.
Die skade aan meeste suikerriet produksie-areas is reeds gedoen en dié verliese sal oor twee seisoene gevoel word.
“Hoewel die wydverspreide reën ’n welkome verligting vir meeste van die produksie-areas is, sal dit maar ’n geringe uitwerking op die huidige produksieseisoen hê. Alle gebiede gaan gebuk onder die erge droogte en Empangeni het ’n 40% jaar-op-jaar produksie-verlies aangeteken.
Meeste meulens is geskeduleer om binne die volgende ses weke te sluit, wat in sommige gevalle twee tot drie weke vroeër as normaal is. Volgehoue opvolgreën is nou van groot belang om die effek op volgende jaar se opbrengs te keer,” sê me. Jayne Ferguson van Canegrowers.
Ten spyte van buitengewone lae grondtemperature weens volgehoue koue, wat wortelontwikkeling en groei strem, is boere steeds besig om te plant en kunsmis toe te dien. “Daar is gebiede waar suikerrietwortels afgesterf het weens die droogte. Boere moet nou ten duurste, en baie vroeër as normaal, landerye oorplant wat normaalweg eers ná agt of tien jaar nodig sou wees. Hierdie ekstra koste, tesame met die reeds uitdagende koste-knyptang van hoë insetkoste en die droogte, maak ons bekommerd oor die vermoë van boere om deurgaans hulle suikerriet in stand te hou,” verduidelik Ferguson.
Volgens mnr. Mike Black, voorsitter van Kwanalu, was dié organisasie in gesprek met KZN se departement van landbou oor die heersende droogte. “Ons het dringend opvolgreën nodig. Die vlakke van die groot opgaardamme in die provinsie is steeds aan die daal en plaasdamme se vlakke het ook nog nie toegeneem nie. Die situasie is regtig ernstig, maar ons is verbly deur die pro-aktiewe wyse waarop die departement die situasie dophou met die moontlikheid dat boerderygebiede as rampgebiede verklaar word,” het Black verduidelik.